HY HET al saam met van Hollywood se groot name soos Whoopi Goldberg, Martin Sheen, Sydney Poitier en Michael Caine op die silwerdoek verskyn en agter die kamera is hy so knap dat die Deense model Helena Christensen hom al gevra het om haar asseblief af te neem.

Maar toe dit tyd word om te kies tussen ’n gesogte groen kaart om in Amerika te kan woon en werk en ’n vliegkaartjie terug huis toe, het sy geboorteland Tertius Meintjes se hart weer tjoklits laat klop.

Nou is hy al drie jaar lank geanker op die prentjiemooi Overbergse dorpie Greyton, hier waar hy op die wit klippe doer onder by die riviertjie gaan kopskoonmaak, wildvreemdes hom na hul vrolike troues nooi en hy hom aan die plaaslike musiektalent verwonder.

Soos die ouens wat Afrikaanse rastamusiek maak. Ja, hier is daar so iets, vertel hy laggend. Terwyl ons deur Greyton se hoofstraat ry, wys hy: Daar ry Marshall, een van die Afrikaanse rasta-ouens op sy fiets met sy lang haarlokke wat onder ’n rooi-groen-geel keps uithang. En hier voor kom ou Usher aangery. Dié waai met ’n groot glimlag op sy bakkies.

Hier in die Overberg pak hy nie gou op nie, sê die akteur wat nou weer te sien is in die nuwe fliek Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom. Daarin speel hy Hanna se gay modeontwerper-pa, Gavin.

Oor sy eerste gay rol in sy lang loopbaan sê Tertius: “Wat lekker is, is dat ek kon besluit hoe ek die karakter gaan uitbeeld. Ek wou die menslikheid uit Gavin laat straal. Ek het self baie gay vriende en hulle is ook maar net mense. Ek het nie issues daarmee om ’n gay karakter te speel nie.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 2 September 2010