’n Korporatiewe groep wat vyf inkopiesentrums in die Goudstad en Moederstad verteenwoordig, het veiligheidsmaatreëls opgeskerp nadat die Amerikaanse, Britse en Australiese ambassade teen moontlike terreuraanvalle in Suid-Afrika gewaarsku het.

Nomzamo Radebe, uitvoerende hoof van JHI Retail, het gesê die groep “neem kennis” van die waarskuwing.

“Al vyf inkopiesentrums in die Liberty Property Portfolio – Sandton City, Nelson Mandela Square, Eastgate, Liberty Midlands Mall en Liberty Promenade – is op ’n hoë gereedheidsgrondslag en nog veiligheidsmaatreëls is ingestel wat strook met die Liberty Group se beleid. Ons werk ook nou saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens.”

Carla White, woordvoerder vir die V&A Waterfront, het vroeër gesê veiligheidspanne by dié inkopiesentrum ontmoet gereeld en werk saam met die polisie en intelligensiedienste op nasionale en streekvlak.

“In reaksie op die kennisgewing van hierdie bedreiging het die polisie hul teenwoordigheid en waaksaamheid in die Waterfront verhoog en het ons ook ons planne ooreenkomstig ingevoer.”

Vanessa Fourie, bestuurder van Mall of Africa, het aan News24 gesê dié nuwe inkopiesentrum is bewus van die terreurwaarskuwing en het stappe gedoen om veiligheid op te skerp.

“Ons het ’n sekuriteitsmaatskappy wat saam met ons werk, en het bykomende maatreëls getref om veiligheid te verseker. Ons steun ook op ons verhouding met die polisie en hou daardie kanale oop.”

Lees ook: Amerikaanse terreurwaarskuwing: Moet ons bekommerd wees?

Aanvalle tydens Ramadan

Die Amerikaanse regering het Saterdag gewaarsku hulle het inligting ontvang dat terreurgroepe aanvalle beplan teen plekke waar Amerikaanse burgers in Suid-Afrika bymekaarkom, soos gewilde inkopiesentrums in Johannesburg en die Kaap.

“Hierdie inligting kom na aanleiding van die Islamitiese Staat van Irak en die Levant (Isis) se beroep op hul volgelinge om wêreldwyd, veral in die maand van Ramadan, terreuraanvalle uit te voer.”

Die Britse en Australiese ambassade het kort daarna ook gesê hul regering het na aanleiding van Amerika se waarskuwing hul burgers gemaan om versigtig te wees.

Isabel Potgieter, woordvoerder van die Britse Hoë Kommissaris, het gesê hulle het reeds op 20 Mei vanjaar hul burgers gewaarsku, maar dit ná die naweek se waarskuwing deur Amerika hersien.

Isabel het gesê hulle raai nie hul burgers aan om Suid-Afrika te vermy nie.

Die Australiese ambassade het gesê: “Die Amerikaanse regering het op 4 Junie ’n waarskuwing oor terreuraanvalle aan hul burgers uitgereik.

“Die waarskuwing lui dat ‘die regering inligting ontvang het dat terreurgroepe aanvalle beplan op plekke waar Amerikaners in Suid-Afrika byeenkom, soos gesogte inkopiesentrums in Johannesburg en Kaapstad’.

“Wees veral versigtig op plekke waar buitelanders uithang. Die graad van die waarskuwing het nie verander nie. Ons hou vol om Australiërs te maan om versigtig in Suid-Afrika te wees.”

SA regering nie bekommerd

Die departement van binnelandse sake het Maandag gesê Suid-Afrikaners moenie paniekbevange raak ná die waarskuwing deur die Britse Hoë Kommissaris nie.

Reiswaarskuwings is voorsorgmaatreëls “deur lande om hul burgers te beskerm; dis nie ’n rede vir ons om paniekbevange te raak nie”, het die woordvoerder Mayihlome Tshwete gesê.

“Dit waarteen hulle hul burgers waarsku, gaan nie noodwendig gebeur nie, en moenie as ’n voldonge feit aanvaar word nie. Ebola is ’n voorbeeld van iets (waarteen ons gewaarsku is), maar wat nooit ons land bereik het nie.”

David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, het Amerika se waarskuwing Maandag afgemaak en mense verseker dat sy departement alles in hul vermoë doen om Suid-Afrika teen aanvalle te beveilig.

Die waarskuwings is deel van die Amerikaanse regering se “standaard-voorsorgmaatreëls aan hul burgers”, het hy in ’n verklaring gesê.

“Ons bly ’n sterk en stabiele demokratiese land en daar is geen onmiddellike gevaar nie.”

Bron: News24

Lees ook op Huisgenoot.com:

Polisie se skokontdekking by Kaapse kleuterskool

Elvis Blue slaan asem weg in splinternuwe musiekvideo

Skokaankondiging vir SA Uber-gebruikers

Papegaai sien glo eienaar se moord, herhaal nou sy laaste woorde oor en oor

Skrywer van die inspirerende Vir die Siel-reeks, Susan Coetzer, gee raad vir dié week

Suid-Afrikaners deel hul gunsteling-Afrikaanse woord