Vir nege jaar veg sy al hard en dapper teen kanker, maar as sy voel die tyd is reg, wil Carol Tuck die keuse hê om gehelp te word om te sterf.

"Ek sê nie dit is vir almal nie," sê die 46-jarige van Port Elizabeth. "Maar onder sekere omstandighede voel ek ’n mens moet die reg hê om hierdie keuse te kan maak."

Carol se storie het onlangs aan die lig gekom ná ’n dokumentêr, Define: Living, deur honneursstudente van die Afda-filmskool in Johannesburg gemaak is.

Hierdie ma van twee is nege jaar gelede met kolonkanker gediagnoseer; die kanker het intussen na haar lewer en ander dele van haar lyf versprei. Voorheen was Carol ’n persoonlike assistent by ’n porkureursfirma, maar sy moes verlede jaar ophou werk.

In die dokumentêr beskryf sy hoe moeilik dit vaar was om te hoor haar kanker is terminaal. "My seun het onlangs vir my gesê hulle het geweet ek is regtig siek toe ek my hare begin verloor het," vertel sy.

Haar lewensmaat het aanvanklik nie verstaan toe Carol hom vertel haar kanker het versprei nie. "Ek het hom gevra of hy verstaan wat ek vir hom sê. Hy het geantwoord 'ja, dit het iets met die kanker te doen'. Dis toe dat ek dit vir hom verduidelik: Ek is terminaal."

"Hy het so wit soos ’n laken geword."

[caption id="attachment_139969" align="alignnone" width="600"]Carol saam met haar seun en dogter. Foto: Facebook Carol saam met haar seun en dogter. Foto: Facebook[/caption]

Carol vertel sy dink dis veral swaar vir haar ouers dat sy graag self ’n keuse wil maak oor wanneer sy doodgaan. "Hulle wil nie hê ek moet swaarkry nie, maar hulle weet ek is iemand wat redelik intelligent is en hulle sal my besluit ondersteun," sê sy.

"Die besluit sal nie maklik wees nie, maar as hulle die keuse het om my nie in pyn te sien nie, want daar is baie pyn betrokke, sal hulle my ondersteun."

Sy meen dit gaan ook oor haar waardigheid as mens, want jy kan die pyn nog met pynstillers beheer, maar jy is magteloos as jy eers bedlêend word en nie na jouself kan omsien nie. "Dis nie die manier waarop ek wil doodgaan nie."

Bystand om dood te gaan is tans nog onwettig in Suid-Afrika en Carol erken sy is bang dat nuwe wetgewing nie betyds bekragtig sal word nie. “As dit gebeur is daar geen hoop nie, want dan los dit my met beperkte keuses. Ek kan of aangaan met my behandeling en wegkwyn. In ’n bed lê met ondraaglike pyn sonder om na myself te kan omsien. Of ek kan dit self beëindig.”

[caption id="attachment_139970" align="alignnone" width="600"]Carol saam met haar dogter. Foto: Facebook Carol saam met haar dogter. Foto: Facebook[/caption]

Die laaste uitweg is ook nie eintlik vir haar ’n opsie nie, want geen manier van selfdood pleeg is gewaarborg nie. Sy wil ook nie haar kinders aan ’n situasie blootstel waar hulle op haar afkom nie.

"Ek wil nie doodgaan nie," sê sy ferm. "Maar ek is besig om dood te gaan. Ek wil net die keuse hê oor hoe en wanneer ek doodgaan."

Carol se pleidooi rakende bystand om te sterf is geensins enig in sy soort. Die ontslape advokaat Robin Stransham-Ford het in April verlede jaar ’n hofsaak gewen waarin bevind is dat ’n dokter wat hom sou bystaan om te sterf, sal nie vervolg word nie.

Hy is egter ure voor die uitspraak gelewer is, dood. Die gesondheidsdepartement het teen die saak geappelleer. Die saak sal in November vanjaar in die Appèlhof in Bloemfontein aangehoor word.

Kyk hier na die dokumentêr oor Carol: