Toe verdwyn Isaak Komisarchik (82).

Sy familie en die owerhede was dronkgeslaan. Hy het wel ’n tydjie voor sy verdwyning geringe tekens van demensie begin toon, maar Isaak was in ieder geval fisies nie daartoe in staat om ver van sy woonplek weg te dwaal nie.

Drie dae ná sy verdwyning sê sy dogter Yelena aan die plaaslike televisiestasie KUSA dat hulle “regtig bekommerd is en baie, baie angstig is om hom te vind.”

Sy kleindogter Elina sê ook sy kan nie verstaan dat hy weg is nie, hy is veronderstel om veilig te wees.

Plakkate is deur die suidooste van Denver opgeplak, pamflette is versprei en brandweermanne het minstens vyf damme gefynkam op soek na Isaak.

 

’n Paar weke later begin inwoners van die Woodstream Village-woonstelblok oor ’n nare reuk te kla . . .

Isaak, ’n inwoner van dié woonstelblok in Denver, Colorado, het die oggend van 6 Julie minstens twee keer die hysbak waarin hy was, se noodknoppie gedruk. Die eerste keer 9:09, die tweede keer 9:17. Maar tevergeefs . . .

Doug Schepman, polisiewoordvoerder, sê niemand het op Isaak se desperate laaste pogings om hulp te kry, reageer nie.

“Die noodknoppie het wel by die hysbakmaatskappy, MEI Total Elevator Services, registreer. Hulle het op hul beurt weer die groep wat die woonstelblok bestuur, Greystar Management Services, daarvan in kennis gestel.”

Volgens Doug het GMS-personeel wel twee van die hysbakke ondersoek en niks gevind nie. Hulle het egter die derde hysbak, wat in daardie stadium glo buite werking was, geïgnoreer.

Dit was dieselfde hysbak waarin Isaak se liggaam op 2 Augustus deur ’n Denver-brandweerman gevind is.

Die gedeelte van die parkeerterrein waar die hysbak was, is na bewering onder konstruksie en nie in gebruik nie.

In ’n verklaring wat deur Greystar Management Services se woordvoerder, Lindsay Andrews, uitgereik is, word aangedui dat die omstandighede rondom die voorval ondersoek word. Sy het egter nie kommentaar gelewer oor waarom niemand op enige van Isaak se noodoproepe reageer het nie.

Kapt. Greg Pixley, woordvoerder van die brandweerdepartement, het aan die Denver Post gesê “iets hier is nie reg nie,” veral in die lig daarvan dat Isaak daarin geslaag het om die noodknoppie te aktiveer. Twee keer.

John White, Denver-polisiewoordvoerder, weerspreek ook die talle weergawes dat die hysbak buite werking was.

Twee kwelvrae duik op: Hóé het Isaak dan in ’n hysbak wat glo nie werk nie, beland en wanneer het hy die hysbak binnegegaan?

Intussen moet sy verpletterde familie die brokstukke optel.

’n Aangetroude familielid, Svetlana Komisarchik, het aan die Washington Post gesê dis baie moeilik om oor hom te praat.

“Hy het ’n wonderlike sin vir humor gehad. Hy het graag grappies vertel en gedigte (volgens ander familielede briljant in Russies) geskryf. En bo alles het hy ’n groot liefde vir sy familie, veral sy kleinkinders, gekoester.

Bronne: cnn.com, denverpost.com, washingtonpost.com