Twaalf jaar lank was sy die toonbeeld van dit waarvan soveel ander vroue droom – beeldskoon, stralend gelukkig en aan die sy van ’n miljoenêr.

Maar Tereza Troskie (41) sê dis nie altyd maklik om die gewese vrou van ’n ryk man te wees nie – ’n “biljoenêr’’, soos sy Boet noem.

En die lewe in die Bloemfonteinse rolprent- en eiendoms-magnaat Boet Troskie se agtslaapkamerhuis was ook nie altyd net die idilliese rykmansbestaan wat mense hulle so verbeel nie, voeg sy by.

Sy het miskien die luuksheid van drie sitkamers, ’n onthaalsaal waar sy meer as honderd mense kon ontvang en die dienste van vier huishulpe en ’n persoonlike sjef tot haar beskikking gehad, maar niks daarvan was ooit werklik haar eie nie, sê die voormalige Mev. Suid-Afrika.

En sy het toe allermins as ’n ryk vrou uit die huwelik gestap, voeg Tereza beslis by. Inteendeel, sy was diep in die skuld.

Vandag, vir die eerste keer sedert sy en Boet agt jaar gelede geskei is, laat sy weer die media in haar huis toe. En dis beslis nie omdat sy nou skielik weer aandag soek nie, skerm die gewese skoonheidskoningin grootoog. Dit is omdat sy doodeenvoudig net nie meer kan stilbly terwyl ‘‘die een ná die ander leuen’’ oor haar verkondig word nie.

Drie jaar gelede was daar die valse bewerings dat sy ’n verhouding met ’n getroude man het. Maar tot vandag toe weet sy nie eens wie dié man sou wees nie, sê sy verontwaardig.

En nou onlangs is weer verkondig sy skuld amper R1 miljoen. Haar kredietrekord is selfs in ’n koerant gepubliseer, al belet die wet dit, sê sy. Die skuld was buitendien reeds volledig afbetaal.

Lees die volledige artikel in die 1 April-uitgawe van Huisgenoot.