Tereza Troskie-Herbst en haar gesin gaan moontlik moet trek uit die huis waar kosbare laaste herinneringe van Jayden Ben, haar babaseuntjie wat vroeër vanjaar ses dae na sy geboorte gesterf het, voortleef.

[caption id="attachment_148714" align="alignnone" width="600"]xx Tereza hou vol sy het Boet se huurgeld weerhou omdat hy haar geld geskuld het.[/caption]

Netwerk 24 berig volgens hofstukke was Tereza verlede jaar R82 133 agter met die betaling van huurgeld aan Nelie Smith-Mansuitrustrs, ’n filiaal van haar eksman, Boet Troskie, se Mimosa-groep aan wie die huis behoort.

Tereza sê sy het van haar huurgeld nie betaal nie omdat Boet haar geld geskuld het en sy skuldvergelyking toegepas het. Op sy beurt het Boet dié bewering afgemaak as “die grootste snert wat ek nog gehoor het”.

Boet sê die land ken hom en sy finansiële bestuurder betaal elke maand stiptelik die nodige gelde aan Tereza vir haar en hul seun, Jamie. Hy voeg ook by dat hy al meer as R500 000 van sy eksvrou en haar man, Bennie, se slegte skuld betaal het.

Luidens die berig op Netwerk 24 het regter Mojalefa Rampai Donderdag in die Bloemfonteinse hooggeregshof gelas die egpaar moet einde Januarie uit die huis trek. Maar verskeie verbeteringe is oor die laaste jare deur die Herbst-egpaar aangebring terwyl hulle daar gewoon het.

“Dis nie net vir pak jou tasse nie,” het ’n ontstelde Tereza gesê.

Dié gewese Mev. Suid-Afrika het Vrydag gesê hulle gaan “definitief appèl aanteken om die bevel te stop, sodat onderhandelinge kan plaasvind oor wat verdiskonteer word.” Laasgenoemde verwys na ’n geldwisseling voor die vervaldag teen ’n korting inwissel.

Intussen bring Tereza vandag ’n meriete aansoek voor ’n regspan waarna hulle sal besluit of daar genoegsame rede is vir ’n dagvaarding na aanleiding van Jayden Ben se dood.

’n Forensiese patoloog het egter volgens Tereza beslis haar baba se lyk hoef nie opgegrawe te word nie. Die besluit volg nadat Jeanne-Marie Coetzer, die surrogaat wat Jayden Ben gedra het, ’n geregtelike doodsondersoek aangevra het na sy dood.

Tereza is “100% gelukkig” met die patoloog se besluit, maar sy wil steeds hê Jayden Ben se dood moet ondersoek word.

Vir die meriete-aansoek sal enige verwante materiaal rondom Jayden Ben se geboorte en sy kortstondige lewe by die hof ingedien word. “Datums, video’s en gesprekke met betrokkenes sal by die aansoek ingesluit word,” sê Tereza.

Volgens Tereza het die patoloog in ’n verslag glo aanbeveel die week voor die geboorte en die geboorteproses self moet ondersoek word. Sy sê daar sal daarvolgens besluit word of daar meriete vir ’n saak is. Indien die hof so bevind, sal Tereza die betrokke partye dagvaar.

Yolandi Hewetson, Jeanne-Marie se prokureur, het per WhatsApp laat weet hulle wil nie verdere kommentaar lewer met betrekking tot die saak nie.

[caption id="attachment_148713" align="alignnone" width="600"]xx Tereza, haar man, Bennie, seun, Jamie, en klein Jayden Ben kort voor sy dood.[/caption]

Intussen gaan plaas Tereza steeds twee keer ’n week blomme op hul seuntjie se graf. “Of ons ooit vrede sal maak met Jayden Ben se dood, weet ons nie.

“ ’n Mens gaan slaap met Jayden Ben in jou gedagtes en jy staan op met hom in jou gedagtes.”

Jayden Ben is vroeër vanjaar dood nadat sy ouers opgelet het daar is bloed in sy neusholtes na ’n voeding. Hulle is dadelik hospitaal toe waar die jong babatjie ure later oorlede is.

Alles staan steeds net soos dit met Jayden Ben se geboorte was. Die babawiegie is steeds in Tereza en Bennie se slaapkamer. “As familie het ons besluit ons gaan Jayden Ben lewendig hou; ons sal spesiale geleenthede vier met hom in ons harte.”

Vir Tereza is dit ondenkbaar dat sy Jayden Ben se goed sal moet oppak.

Sy is wel dankbaar dat sy nou kan voortgaan om sy graffie mooi te maak. ’n Spesiale gebied by die begraafplaas sal afgesper word en Jayden’s Walk genoem word.

Om met daaglikse take aan te gaan en te maak of alles okei is, was vir haar een van die moeilikste dinge na Jayden Ben se dood. “Ek kry oomblikke wat ek nie by sy kamer kan verbyloop of ingaan nie.” Soms staar sy vir ure lank na Jayden Ben se foto’s.

Ook vir Bennie en Jamie is dit steeds bitter swaar. “Jamie het ’n foto (van Jayden Ben) langs sy bed.” Tereza sê ’n mens verwerk nie so iets nie.

“Jy leer maar om daarmeee saam te leef."