Maria Sharapova (26) wil glo haar van verander na Sugarpova.

Dis glo darem net tydelik; dis deel van ’n reklameveldtog vir haar jaar oue reeks duur lekkers. Die Londense media het berig die wêreld se nommerdrie-vrouetennisspeler, wat deur IMG bestuur word, het in die Floridase hooggeregshof aansoek gedoen om haarself tydens die Amerikaanse Ope Maria Sugarpova te noem. Die Ope begin Maandag in New York.

Maria het glo R5 miljoen aan bemarking bestee toe die lekkers verlede jaar bekendgestel is. Dit word in uitgesoekte winkels soos afdelingswinkels en boetieks verkoop.

Selfs al sou die wet haar toelaat om haar naam in die belang van gratis publisiteit en roem te verander, sal die Ope steeds sy eie diskresie moet gebruik oor wat hulle haar op amptelike trekkingsdokumente, wedstrydaankondigings en so aan gaan noem.

Tot 1,8 miljoen pakke van die weelderige lekkers is na raming verkoop sedert dit bekendgestel is.

Volgens die bemarkingsvoorstel sal Maria, wat die Ope in 2006 gewen het, haar naam terugverander sodra die Ope verby is. Sy sal die maatskappykenteken, wat bestaan uit rooi lippe, op haar wedstrydklere dra.

Hoewel sy nou nog net lekkers bemark, hoop die ondernemende Rus om ook kosmetiekmiddels en mode-items by haar produktereeks te voeg.

– Sapa

sapalogo