Hy was vier maande lank in die waakeenheid voor die baanbrekeroperasie. Die vyfjarige Mnotho Mndebel het ’n hart-ventrikulêre-hulpapparaat (HVAD) in die Maboneng-hartinstituut van die Netcare Sunninghill-hospitaal gekry. Dis ingeplant om sy erg beskadigde hart te laat aanhou werk.

Dr. Viljee Jonker, die chirurg wat die inplantingspan gelei het, sê hy is verheug oor Mnotho se vordering sedert die prosedure ’n maand gelede uitgevoer is. Viljee sê die seun kan hierdie week teruggaan huis toe in Newcastle, KwaZulu-Natal.

Mnotho Mndebele en sy verheugde ma, Mbali. Foto: Verskaf

Só het die meganiese hart deur die jare verander en ál kleiner en verfynder geword:

1937: Die eerste kunshart is reeds in 1937 in Rusland in ’n hond ingeplant

1952: In dié jaar is die eerste Dodrill-GMR-masjien gebruik om ’n pasiënt se hartfunksie tydens ’n operasie oor te neem. Dit is die voorganger van die hedendaagse hartlongmasjien wat deesdae in opehartopehartoperasies gebruik word.

1953: Die eerste hartlongmasjien is in 1953 die eerste keer gebruik.

1957: In Desember 1957 het Willem Johan Kolff ’n kunshart in ’n hond ingeplant in ’n kliniek in Cleveland, VSA.

1963: Die eerste HVAD is in Texas deur drss. E. Stanley Crawford and Domingo Liotta ingeplant.

1966: In April 1966 het Michael DeBakey en Liotta die eerste HVAD ingeplant waar die pomp binne-in die pasiënt se borskas was.

1969: Op 4 April 1969 het Liotta en Denton A. Cooley die eerste meganiese hart in ’n pasiënt se borskas ingeplant as tussentydse maatreël voor ’n hartoorplanting.

1982: Die eerste permanente meganiese hart is op 2 Desember 1982 in Utah deur dr. William Devries in dr. Barney Clark ingeplant. Die kunshart was die Jarvik 7, genoem na die uitvinder van die eerste kunshart, dr. Robert Jarvik. Clark het 112 dae lank met die kunshart geleef. ’n Pasiënt wat in 1985 in Pittsburg die Jarvik 7 ontvang het, het 11 jaar met die kunshart gelewe.

1990: In 1990 is Brian Williams uit die Pittsburgh-hospitaal ontslaan nadat ’n HVAD in hom ingeplant is. Hy was die eerste pasiënt met ’n meganiese hart wat uit ’n hospitaal ontslaan is

'n Gelukkige Mnotho en sy ma, Mbali, spog met sy hart-ventrikulêre-hulpapparaat of meganiese hart. Aan sy sy om ondersteuning te bied, is suster Ina Kok, waarnemende adjunkverpleegbestuurder (links) en sr. Bulelwa Ntilashe, 'n verpleegster by die Netcare Sunninghill-hospitaal. Foto: Verskaf

2000’s: Die ouer weergawes van die meganiese hart het die hart se polsende ritme nageboots, maar nuwe weergawes verskaf ’n aaneenlopende vloei van bloed met ’n sentrifugale pomp. Daar is geen pols nie. Die Berlynhart werk op dié beginsel.

2006: In Augustus 2006 het die Berlynhart ’n 15-jarige in Alberta se eie hart kans gegee om vanself te herstel. Die kunshart is ná 146 dae verwyder en haar eie hart was sterk genoeg om die volle werklading te dra.

2010: Die voormalige Amerikaanse visepresident Dick Cheney ontvang ’n HVAD ná ernstige hartversaking. Hy het 20 maande later op 71-jarige ouderdom ’n hartoorplanting ondergaan.

Die voordeel van die HVAD is dat die pasiënt se hart behoue bly en as reservoir vir die inkomende bloed gebruik word.

Meer as 14 000 van dié gholfbalgrootte HVAD's is reeds wêreldwyd ingeplant.

Die bloed vloei deur die linkeratrium na die linkerventrikel en dan na die meganiese hart wat dit deur die liggaam pomp.