Só sê Gerhard Vos, wat die soekspanne koördineer.

Nadat daar gister menslike oorskot gevind is in twee krokodille wat geskiet in die omgewing waar Scott verlede Vrydag verdwyn het, sal die soektog “afgeskaal word, maar nie ophou nie”, sê Gerhard.

Scott (44), eienaar van SS Pro Safaris, het verdwyn nadat hy saam met sy honde veld toe is. Sy honde het later alleen teruggekom. Scott was saam met ’n groep buitelandse jagters naby die Chikwaraka-kamp.

Sy rugsak is later langs die Limpoporivier gekry. Sy spore het ook daar doodgeloop.

Volgens Gerhard het die Zimbabwe-polisie, wat gehelp het met die soektog na Scott, tydens hul ondersoek aangedui het hulle vermoed Scott is deur krokodille aangeval.

Die krokodille, wat groter as “agt voet” (2,4 m) was, is selektief uitgesoek deur die natuurbewaringdienste in Zimbabwe waarna besluit is om hulle te skiet.

“Dit is nog nie bevestig dat menslike oorskot binne die krokodille gevind is nie. Dan wag ons ook op die resultate van DNS-toetse wat gedoen moet word op dit wat wel gevind is,” sê Gerhard.

Intussen is Scott se vrou, Suré ook na Zimbabwe. Gerhard, wat ’n goeie vriend van Scott is, weet nie of Suré gaan help met die soektog nie.

Die afgelope week het verskeie mense in helikopters sowel as te voet na Scott gesoek. Daar is ook pamflette uitgedeel waarin ’n beloning van $5 000 uitgeloof is vir inligting wat daartoe kan lei om Scott te vind.

Die Van Zyls bly in Marken in Limpopo. Scott en Suré het twee kinders, Sanél (11) en SH (7).