Ten spyte van desperate pleidooie van sy familie vir hulp om ’n 66-jarige pa, wat die afgelope twee dekades aan Parkinson se siekte ly, op te spoor, word Roger Solik van Nottingham Road in Kwazulu-Natal steeds vermis.

missingman

Die Solik-familie het oor die naweek in sosiale media na Suid-Afrikaners uitgereik met ’n aangrypende verklaring: Hul ma, Christine Solik (57), is vermoor en hul pa is vermis. En hy’t net ’n paar uur om te leef sonder sy medikasie.

“Hy het vir 20 jaar hard teen Parkinson se siekte baklei. Daaglikse medikasie is noodsaaklik vir sy toestand, en ongeag hoe verstandelik sterk hy is, sal hy sonder sy medikasie binne 48 uur nie meer oor die weg kan kom nie.”

Maar meer as 48 uur ná die moord op sy vrou is Roger nog steeds vermis, het ’n polisiewoordvoerder, lt. kol. Thulani Zwane, aan Huisgenoot gesê.

Die polisie is op Vrydag 17 Februarie om 13:00 ingelig dat ’n paartjie in die Bend Country Estate vermis is toe bekommerde bure ontdek alles in hul huis is omgekeer en bloedmerke in die huis sien.

Volgens die familie se verklaring is Christine se lyk later in ’n rivier 70 km vanaf die paartjie se huis gevind en is hul motor verlate in ’n nabygeleë gebied gevind.

“Ons ouers was onafskeidbaar en hul verhouding was iets om na te streef. Dis moeilik om te verstaan dat iets so gewelddadig op die landgoed met golwende heuwels, die natuur en bure 100 meter weg, kon gebeur,” het die familie gesê.

Die polisie wou nie bevestig of die liggaam wat by in ’n rivier in Nzinga in Impendle gevind is dié van Christine is nie. “Die polisie soek na die verdagtes en ons kan nie bevestig of die liggaam dié van ’n vrou is wat ontvoer is voor dit geïdentifiseer is nie,” het Thulani gesê.

Hy het bygevoeg die vrou se bene en hande is met draad vasgebind; sy het ’n kopbesering opgedoen en haar mond is met ’n kussing toegemaak.

Die Solik-familie het gesê die polisie se leierskap en bystand het hulle hoop gegee en vra dat enigeen met inligting oor waar hul pa hom bevind, die polisie kontak by 10111 of 083 777 0898.