Die Heuwels Fantasties, Jay, MoniQue en Juanita du Plessis is aangewys as die groot wenners van vanjaar se Huisgenoot-Tempo-toekennings wat op Dinsdag 19 Julie by Emperors Palace in Kempton Park uitgedeel is – al dié sterre is met twee pryse elk bekroon.

Juanita du Plessis, Jan Blohm, Die Penkoppe Boereorkes en Carike Keuzenkamp het hul kategorieë suksesvol verdedig nadat hulle verlede jaar ook as wenners bekroon is.

Dis duidelik Afrikaanse musiek het mense aan die praat, want meer as 108 000 stemme is vanjaar deur die publiek uitgebring, ’n indrukwekkende 48 000 meer as verlede jaar.

Die Heuwels Fantasties het koning gekraai in die kategorie Alternatiewe Musiekvideo van die Jaar saam met MK vir Noorderlig en die kategorie Kopskuifalbum van die jaar vir Wilder as die Wildtuin.

Jay is aangewys as die wenner in die kategorie Popalbum van die Jaar (Solo) en Gewildste Liedjie (Melanie). MoniQue het ook twee toekennings ontvang – een vir gewildste Sokkie-/Dansalbum (Ek Val vir Jou) en Musiekvideo van die Jaar saam met kykNET wat sy met Snotkop deel vir hul weergawe van Ek Val vir Jou.

Bobby van Jaarsveld is aangewys as die Gewildste Manlike Kunstenaar en musieksukses is duidelik in die Van Jaarsvelds se gene, want sy suster, Karlien van Jaarsveld, is bekroon as die Gewildste Nuweling vir haar album Jakkals Trou met Wolf Se Vrou.

Die koningin van Afrikaanse musiek, Juanita du Plessis, is weer aangewys as Gewildste Vroulike Kunstenaar, ’n prys waarmee sy sedert die eerste Tempo-toekennings in 2005 vereer is. Haar album Engel van My Hart is ook die Topverkoper van die Jaar.

Ander kunstenaars wat hul 2010-kategorieë suksesvol verdedig het, is Jan Blohm (Rockalbum van die Jaar – Die Runaway Sessies), Die Penkoppe Boereorkes (Tradisionele Musiekalbum van die Jaar – Kan Nie Kla Nie) en Carike Keuzenkamp (Kindermusiekalbum van die Jaar – Carike en Ghoempie in Kinderland 7).

Die ander wenners in die 16 kategorieë was Andriëtte (Kontemporêre Album van die Jaar – Vat My Hoër), DJ Ossewa (Humor-/Komediealbum van die Jaar – Nuwe CD), Joe Niemand (Gospelalbum van die Jaar – Ek Sal Nie Bang Wees Nie) en Romanz (DVD van die jaar – Treffers Live).

Die Tempo-toekenningsaand is ook die geleentheid waar die top-10 liedjies in die Huisgenoot-Liedjieskryfkompetisie die eerste keer lewend uitgevoer en die wenners aangekondig is.

Meer as 1 500 inskrywings is vanjaar ontvang en ‘n paneel beoordelaars, almal kenners in die musiekbedryf, het die wenners bepaal: Emil Struwig beklee die eerste plek en wen R30 000 met sy liedjie 1001 Soene (uitgevoer deur Heinz Winckler).

In die tweede plek met prysgeld van R15 000 is Michaela Oosthuizen met Keuses (uitgevoer deur Juanita du Plessis), en derde is Chris-Evert Strauss met Spore in die Lug (uitgevoer deur Gerhard Steyn). Chris-Evert wen R10 000.

Die wenner in die afdeling net vir lirieke is Lia met haar liedjie Vier Klippe, gesing deur Manie Jackson. Dis op versoek getoonset deur Niel Schoombee van Select Musiek. Lia wen R10 000 met haar inskrywing.

Lesers het die kans gehad om uit al die liedjies vir hul gunsteling te stem, en Emil wen nog R5 000 nadat 1001 Soene die meeste stemme getrek het.

“Die ontwikkeling van unieke Afrikaanse musiek is ’n passie vir ons by Huisgenoot,” het Wicus Pretorius, adjunkredakteur, en redakteur van Huisgenoot-Tempo, gesê. “Veels geluk aan al die wenners, en ’n groot dankie aan almal wat gestem het.

’n Gratis CD met al tien die top-liedjies word saam met die lente-uitgawe van Huisgenoot-Tempo versprei. Kry dit van einde Augustus op die rak – die musiek is joune, geniet dit.”

Lees meer in die 28 Julie-uitgawe van Huisgenoot.

Die Huisgenoot-Tempo-wenners vir 2011 is:

Gewildste Manlike Kunstenaar: Bobby van Jaarsveld

Gewildste Vroulike Kunstenaar: Juanita du Plessis

Gewildste Nuweling: Karlien van Jaarsveld

Gewildste Liedjie: Melanie, gesing deur Jay

Popalbum van die jaar: Solo, deur Jay

Rockalbum van die jaar: Die Runaway Sessies, deur Jan Blohm

Sokkie-/dansalbum van die jaar: Ek Val vir Jou, deur MoniQue

Kopskuifalbum van die Jaar: Wilder as die Wildtuin deur Die Heuwels Fantasties

Kontemporêre album van die jaar: Vat My Hoër, deur Andriëtte

Tradisionele Musiekalbum van die Jaar: Kan Nie Kla Nie deur Die Penkoppe Boereorkes

Gospelalbum van die Jaar: Ek Sal Nie Bang Wees Nie deur Joe Niemand

Humor-/Komediealbum van die Jaar: Nuwe CD deur DJ Ossewa

Kindermusiekalbum van die Jaar: Carike en Ghoempie in Kinderland 7 deur Carike Keuzenkamp

Topverkoper van die jaar – Engel van My Hart deur Juanita du Plessis

Musiekvideo van die Jaar saam met kykNET: Ek Val vir Jou deur MoniQue & Snotkop

Alternatiewe Musiekvideo van die Jaar saam met MK: Noorderlig deur Die Heuwels Fantasties

DVD van die Jaar: Romanz – Treffers Live deur Romanz

Die Huisgenoot-Liedjieskryfkompetisiewenners vir 2011 is:

Eerste plek - Emil Struwig: 1001 Soene (uitgevoer deur Heinz Winckler)

Tweede plek - Michaela Oosthuizen: Keuses (uitgevoer deur Juanita du Plessis)

Derde plek - Chris Evert Strauss: Spore in die Lug (uitgevoer deur Gerhard Steyn)

Wenner van die leserskeuse-prys: Emil Struwig: 10001 Soene.

Wenner van die liriek-afdeling: Lia Smit: Vier Klippe (uitgevoerdeur Manie Jackson, getoonset deur Niel Schoombee)