Menopouse vind plaas wanneer ’n vrou se estrogeenvlakke afneem en sy ophou ovuleer. Dit kan onder meer maak dat sy gloede kry en gewig aansit en dat haar seksdrang afneem. Dié lewensfase hoef egter nie so skrikwekkend te wees soos dit soms klink nie. As die estrogeenvlakke verhoog word, kan dit die vrou se gewig in toom hou en haar jonger laat lyk. Die regte dieet kan ook hiertoe bydra.

In 2010 het ’n studie wat befonds is deur die Nasionale Institute van Gesondheid getoon Japannese vroue, wat baie fitoëstrogeen (plantstowwe soortgelyk aan estrogeen) inneem, het minder menopousesimptome gehad as hul Westerse eweknieë. Dit kan dus voordelig wees om te let op wat jy eet. In die boek The Age-Defying Diet deur dr. Caroline Apovian word die volgende aanbeveel:

Biefstuk

Net omdat jy jou oorgangsjare bereik het, beteken glad nie jy hoef biefstuk af te sweer nie. Die yster in maer rooivleis help jou om ná ’n oefensessie spiere te bou en dit, tesame met gereelde oefensessies, sal help om jou skraal te hou. Maer beesvleis is ook propvol B-vitamiene, wat bekend is vir hul vermoë om angs en stres te verlig. Volgraanvoedsel bevat ook B-vitamiene, dus is biefstuk en bruinrys ’n ideale maaltyd.

Tofoe

Dit is ietwat van ’n aangeleerde smaak, maar tofoe is propvol proteïen en kan dus die skelet help versterk. Dit verlaag ook jou cholesterolvlak en danksy die sojabone waarvan tofoe gemaak word, maak dit ook dat gloede nie so erg is nie. Sojabone bevat boonop plantchemikalieë wat baie soos estrogeen is.

Papajas

Dié soet bederf haal ook die lys, aangesien vrugte die estrogeenvlakke versterk. En nie net bevat papajas min kilojoules nie, dit het ook twee keer soveel vitamien C as lemoene, dus sal dit help om jou gelaat fris en vars te laat lyk.

Groen blaargroente

Osteoporose (swak gebeendere) kom algemeen by ouer mense voor. Sorg dat jy baie kale, kopkool en spinasie inkry, want sal dit jou skelet help versterk en dus jou risiko vir osteoporose verlaag.

- Cover Media