Met die hulp van produkte soos Tagg the Pet Tracker, FitBark en Whistle kan ’n mens jou hond se doenighede monitor wanneer jy nie by die huis is nie. Hierdie produkte kan selfs e-posse stuur wat verklap waar Wagter is en wat hy nou weer aanvang.

Dit hou baie voordele in vir troeteldiereienaars. As jou dierbare Wagter wegloop, kan jy hom maklik opspoor. Om sy bewegings deur die dag te monitor gee jou ook ’n goeie idee van hoeveel oefening hy kry. Lê hy die hele dag en slaap, sal jy maar met hom moet gaan stap.

Dit hou ook mediese voordele in. Hierdie opsporingtoestelle vir troeteldiere kan jou veearts daaglikse data oor jou hond se bedrywighede gee. ’n Skielike verandering in gedrag tussen besoeke aan die veearts kan beteken iets skort met jou beste vriend.

Die Auburn-universiteit in Alabama doen tans navorsing oor die afstandbeheer van honde. Opgeleide honde kry spesiale rugsakke wat vibrasies en klanke uitsaai wat die honde aansê waarheen om te gaan. In die toekoms kan gidshonde hul base met die druk van ’n knoppie na plekke toe neem wat vooraf geprogrammeer is.

En wie weet, miskien kan jy jou tegno-hond winkel toe stuur om jou nuwe Huisgenoot te gaan koop!

Saamgestel deur Petro-Anne Vlok

Bronne: fitbark.com, pettracker.com, digitaltrends.com