Die sangeres van die liedjie Aura en die ster van Chicago Fire is sedert Augustus 2011 ’n paartjie, en hoewel hulle al voorspoed en teenspoed geken het, sê hy dis ’n geval van teenoorgesteldes wat mekaar aantrek.

Hy het aan E! News gesê: “Ek is teruggetrokke. Sy is nie. Om die een of ander rede werk dit net. Dit werk en dis dit.”

Die paartjie was bra vryerig op die NBC Universal-partytjie ná die Golden Globe-prysuitdeling in Beverly Hills. Taylor (32) het al gesê hy is gereed om nes te skop en wil kinders by die 27-jarige sangeres hê.

“Ek wil natuurlik vir my ma kleinkinders gee. Ek dink ek sal ’n goeie pa wees; dit sal ’n plesier wees. Ek sou dol wees daaroor, en ek is nou in my 30’s. My ma wil hê ek moet trou en kinders kry. Sy het Gaga al ontmoet; ons is al ’n rukkie saam. Ons is in ’n toegewyde verhouding en ek is baie gelukkig. Ek is ’n gelukkige ou.”

Lady Gaga, wie se regte naam Stefani Germanotta is, het al gesê sy hoop sy sal drie kinders hê. “Ek wil eintlik ’n hele spul kinders hê. Ek dink minstens drie. Ek wil baie graag ’n gesin hê en wil my kinders koester. Trouens, dit sou wees asof ek heeltyd drie monstertjies by my het.”