Om aan die SABC3-kookprogram The Ultimate Braai Master (UBM) deel te neem was die moeilikste besluit van hul lewe, vertel Ashok (38) en Jolene (37) Naidoo.

Ashok moes sy werk bedank en Jolene moes hul pasgebore seun by die huis los, maar vandag is die egpaar wat as die span Mojo deelgeneem het, glad nie spyt nie. Selfs al moes TV-kykers gisteraand sien hoe die Mojo’s in die sewende episode deur die beoordelaars geweeg en te lig bevind is . . .

Hulle is baie spirituele mense, vertel Jolene hier in hul nuwe kombuis in hul huis in Randburg. “Dit is hoe dit moes gebeur het.”

Want dit is juis danksy die prysgeld van R35 000 waarmee hulle by UBM weggestap het, dat hulle onder meer hul kombuis kon moderniseer en uitbrei sodat hulle nou hul groot droom kan verwesenlik. Dan laat Ashok die aap uit die mou: “Ons eie spysenieringsonderneming, The Mojo Experience, is nou gereed om te begin sake doen!”

Die Mojo’s het vir verlede jaar se reeks ook ingeskryf, maar het toe nie eens die oudisierondtes gehaal nie. Dit het Ashok nie van stryk gebring nie en vanjaar het hy weer ingeskryf. Jolene was nog in die hospitaal ná die geboorte van hul laatlammetjie, Torin, toe Ashok haar bel met die nuus dat hulle vir die tweede seisoen van UBM gekeur is.

“Ek het nie eers mooi gehoor wat hy sê nie, want ek was nog vol pynpille,” vertel Jolene laggend. Ashok kon egter nie verlof kry vir die opnames nie, en moes sy werk as projekbestuurder bedank.

Vir Jolene was dit weer erg om die kleine Torin by die huis te los, maar ouma Anne Arries het al die pad van Kaapstad gekom om na die kleinding en sy boetie, Storm, om te sien. “As jy voel dit is die regte ding om te doen, dan moet jy die kans vat,” verduidelik Ashok.

En natuurlik is die twee versot op braai. “Elke naweek, en soms sommer in die week ook,” vertel Jolene. Ashok is baie beslis oor hoe sy steak en tjoppies moet lyk wanneer dit van die braai afkom: “Tussen medium en medium rou. Dan is jy a-for-a-way!”

Deur Jaco Hough-Coetzee