Dit kan nadelig wees vir jou kind as die televisie gedurig aan is – selfs al is dit net in die agtergrond. ’n Onlangse studie deur Amerikaanse navorsers van die Universiteit van Iowa het getoon dat dit in kinders se speel-en-leer-fase veral skadelik kan wees.

Die navorsers het bevind agtergrond-televisie trek ’n kind se aandag van speel en leer af as dit aangeskakel is terwyl hulle besig is met ’n ander speletjie of aktiwiteit.

Die navorsers het ’n groep van 1 150 Amerikaanse gesinne met kinders tussen die ouderdomme van 2 tot 8 jaar ondersoek. Daar is gekyk na die gesinsdemografie, ouerskapstyle, die gebruik van media en hoe dié elemente kinders se sukses in die toekoms kan beïnvloed. Die studie het ook bevind dat nie-opvoedkundige programme kinders se kognitiewe ontwikkeling negatief kan beïnvloed.

Deborah en ’n groep navorsers het in ’n 2012-studie bevind Amerikaanse kinders word daagliks gemiddeld vier uur aan agtergrond-TV blootgestel.

Raad vir TV kyk

  • Behou perspektief. ’n Televisie en wat dit bied, is nie net sleg nie – daar is wonderlike opvoedkundige en vermaakprogramme. Maak net seker die kassie regeer nie jul lewe nie!
  • Moenie bang wees om jou kinders se kyktyd in te perk nie. Besluit wat vir jou werk: net naweke of net ’n sekere hoeveelheid tyd per dag. Praat hieroor met jou kinders, soos oor hul programkeuses, en vind ’n middeweg wat vir almal aanvaarbaar is.
  • Skakel die TV vir spesifieke programme aan – wat jy minstens een keer saam met jou kinders moet kyk om die aard van die inhoud te bepaal – en dan weer af sodra die program verby is.
  • Stel ’n voorbeeld vir jou kinders met jou eie kykgewoontes. Kies spesifieke programme wat jy volg, eerder as om tussen kanale rond te spring om te sien wat daar is.
  • Moenie die TV as ’n beloning of straf gebruik (deur byvoorbeeld kyktyd op grond van jou kind se gedrag te verminder of te vermeerder) nie. Dit verleen te veel belangrikheid aan TV.
  • Dit is soms goed vir ’n kind om verveeld te voel. Dit leer hulle om self iets te soek om te doen of verbeeldingspeletjies te speel. Moenie met die eerste teken van verveling voorstel dat hulle kyk wat op die TV is nie.

Kyk hier na ’n video waar die hoofnavorser, prof. Deborah Linebarger, die studie bespreek:

- Suzaan Hauman

Bronne: Now.uiowa.edu, Thehealthsite.com, Familytime.com, parentsforhealth.com, delnor.com, emaxhealth.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.