Ethiopië. –

Of in sy geval: bou ’n ander een.

Die ambisieuse 35-jarige man droom feitlik sy lewe lank daarvan om eendag ’n vlieënier te word. Maar sy lengte, oftewel 1 cm te min daarvan, het sy vlerke geknip. Die minimum vereiste by die vliegakademie was 1,7 m. En Asmelash is net 1,69 m. “Ek het besluit om my eie vliegtuig te bou sodat ek hoog in die lug kan vlieg,” het hy aan CNN gesê.

  "Vliegtuie wat tydens die 1920’s en 30’s gebruik is"

Tien jaar gelede het sy planne begin vorm aanneem. Danksy aanlyn handleidings en YouTube-video’s het Asmelash sy lang pad na die wolke begin. Van die onderdele is afkomstig van die Merkato-mark in Addis Ababa terwyl ander onderdele herwin is. Die 8,5 m-vlerk is gemaak van hout wat van Australië ingevoer is.

Die vliegtuigontwerp wat hy gevolg het, is gegrond op vliegtuie wat tydens die 1920’s en 30’s gebruik is om vlieëniers in Amerika op te lei. Die ontwerp het berus op ’n Ford-enjin, maar Asmelash kon dit nie bekostig nie. Hy het toe ’n Volkswagen Kewer se viersilinder-, 40 perdekrag-enjin ingespan. Vandag het sy konstruksie ’n Volkswagen Transporter-enjin wat 78 perdekrag lewer.

 

  Dit het hom 570 dae geneem om sy vliegtuig, die K-570, te voltooi. Ongelukkig het ’n foutiewe skroef (‘propeller’) sowat 5 maande gelede sy eerste poging om te vlieg, gekniehalter.
“Die grootste gevaar gaan die landing wees”

Nou’s hy slaggereed om sy volgende geskiedkundige vlug aan te pak – Saterdag hoop hy om na sy troue met Seble Bekele te vlieg.

Asmelash sien die vlug nie as ’n probleem nie. Hy beplan om teen 90 km/h teen die verstommende hoogte van net 10 m bo die grond te vlieg.

“Die grootste gevaar gaan die landing wees,” erken hy. Dis nou as die wielbasis, wat van ’n Suzuki-motorfiets kom, die impak kan hanteer .

“Ek is baie seker ek gaan vlieg,” is sy vasberade antwoord op vrae wat aan hom gestel is.

’n Mens kan Asmelash net voorspoed toewens. Met soveel passie en toewyding, kan dit net werk.

Bronne: cnn.com, mailonline.co.uk