By ’n splinternuwe hotel in Japan word jy nie meer by die ontvangstoonbank deur die (hopelik) vriendelike gesig van ’n mens gegroet nie.

Eerder staan ’n ietwat vreesaanjaende dinosourus-robot jou en inwag.

Die nuwe Henn-na-hotel in Nagasaki, Japan, gebruik robotte om take uit te voer wat gewoonlik by ander hotelle deur menslike hotelpersoneel gedoen sou word. Dit sluit in twee robotte agter die ontvangstoonbank, een wat Engels praat en een wat Japannees praat, asook ’n robot wat jou bagasie dra.

Eerder staan ’n ietwat vreesaanjaende dinosourus-robot jou en inwag.

Vreemd genoeg praat die dinosourus Engels terwyl die robot van ’n vrou in Japannees kommunikeer.

Die futuristiese hotel maak ook van gesigsherkenningstegnologie gebruik pleks van gewone kamersleutels of -kaarte.

In jou kamer is daar ook ’n klein, vet robotjie, omtrent so groot soos ’n bedlampie, wat eenvoudige vrae soos “Hoe laat is dit?” of “Hoe lyk die weer môre?” beantwoord. Dit kan ook die kamer se ligte aan- en afskakel as jy dit vra.

Hideo Sawada, die sakeman aan die hoof van die hotel, wat deel vorm van ’n pretpark, meen die gebruik van robotte is om doeltreffendheid van hotelpersoneel te verbeter, koste te verminder en nuwe tegnologie doeltreffend in te span.

’n Aand in die nuwe, tegnologiese Henn-na-hotel is ook nie peperduur nie. ’n Kamer sal jou sowat R1 000 per nag uit die sak jaag.

Gelukkig maak die hotel steeds van mense gebruik om kansvatters wat net die nuwe tegnologie wil kom toets, buite te hou.

Vir nog foto's, klik hier.

Bronne: New York Times, Al Jazeera, RT News