’n Tak van dié kitskosreus het onlangs klante se bloedalkoholvlak begin toets voor hulle toegang tot die restaurant kan kry.
“Ek wil hê mense moet hul aandjie uit geniet, maar verantwoordelik wees,” het hy bygevoeg.

Klante word weggewys as hulle bloedalkoholvlak twee maal hoër is as wat dit moet wees om te mag bestuur.

Hierdie desperate stap is in die Britse stad Cambridge ingestel in ’n poging om die 24-uur-tak van McDonald’s daar “veiliger” te maak.

Dié restaurant is ’n gewilde bymekaarkomplek vir dronk studente en sokkergeesdriftiges wat ná ’n lekker kuier laataand daar inloer maak vir iets te ete.

In Maart vanjaar is ’n vrou hier met die vuis bygedam deur ’n dronk klant wat ook rassistiese opmerkings gemaak het.

Verlede jaar is meer as 140 mense in hegtenis geneem omdat hulle dronk in die openbaar was.

’n Plaaslike polisiekommissaris, sir Graham Bright, het verduidelik dat dit ’n tendens geword het vir mense om baie dronk by die restaurant op te daag, “met die gevolge dat hulle hulself en ander in gevaar stel.

“Ek wil hê mense moet hul aandjie uit geniet, maar verantwoordelik wees,” het hy bygevoeg.

Hy ondersteun die besluit om mense se bloedalkoholvlak te toets voor hulle die restaurant binnegaan.

Sedert die nuwe maatreël verlede week ingestel is, is daar reeds ’n hand vol klante weggewys.

’n Onderwyser (25) sê hy was verstom om toegang geweier te word. “Hoe kan hulle my wegwys omdat ek te dronk is? Ek kan myself nie indink hoekom enigiemand daar sal wees ná tweeuur soggens as hy nié gekuier het nie.”

Bronne: Mirror Online; Fox News