Net twee weke nadat die sangeres Taylor Swift en die Skotse DJ Calvin Harris uitgemaak het, het sy weer liefde gevind – dié keer in die arms van nog ’n Britse hartebreker.

Haar nuwe liefie is die akteur Tom Hiddleston. Die twee is Dinsdag gekiek waar hulle alte danig is met mekaar en beslis soos meer as net vriende lyk.

Tydens ’n geheime ontmoeting in Rhode Island, waar Taylor ’n strandhuis het, het die superster (26) en haar nuwe kêrel (35) hande vas gehou en passievol gesoen.

“Hulle het mekaar omtrent beetgekry en gesoen en gedruk, al het 20 mense op die strand gekom en gaan,” het ’n omstander aan die Britse koerant The Sun vertel “Hulle het soos enige jong, dolverliefde, sorgelose paartjie gelyk.” Lees ook: Taylor Swift skitter as bruidsmeisie by vriendin se troue Bronne het aan die koerant gesê Tom het al sy oog op Taylor sedert hulle mekaar verlede maand by die Met Ball in New York ontmoet het. Daar was dadelik ’n vonk tussen die twee en hulle het met mekaar gedans. Tom het glo ook vir haar blomme en briefies gestuur. Op die strandfoto’s trek Tom sy baadjie uit en hang dit soos ’n ware heer om Taylor se skouers terwyl die paartjie hul uitstappie op die strand met ’n spul selfies vasvang.

Tom is die groot gunsteling om Daniel Craig op te volg as die nuwe James Bond. Luidens berigte het Taylor Calvin gelos omdat hy nie wil trou en kinders hê nie en dié wat weet, sweer Tom was nie die derde party wat die verhouding opgebreek het nie. “Haar kamp hou vol niemand anders het veroorsaak dat Taylor en Calvin uitmaak nie.”

Intussen lyk dit of Calvin die nuus maar sleg vat – hy volg Taylor nie meer op sosiale media nie. Ure nadat die foto’s van haar en Tom aanlyn opgeduik het, het Calvin foto’s met haar op geskrap, waaronder die twiet waarin hy geskryf daar is steeds net “liefde en respek” tussen hulle.

Lees ook: Sewe kere toe Taylor Swift gewys het wat in haar steek

Hy het ook ’n aanhanger op Twitter geblok wat hom gewys het op inskrywings oor Taylor wat hy vergeet het om te skrap. Hy het volg ook nie meer Taylor se broer, Austin, nie.

’n Bron sê egter aan die tydskrif People daar is nie kwade gevoelens tussen Calvin (sy regte naam is Adam Wiles) en Taylor nie en dat die nuus oor haar nuwe liefde hom nie onkant gevang het nie.

“Adam weet daarvan. Hy wou altyd nog die beste vir Taylor gehad het. Hy wil net hê sy moet gelukkig wees. Hy het aangegaan met sy lewe en is gelukkig. Hy het niks te sê oor saam met wie sy uithang nie.”

© Cover Media