Die 23-jarige ster, wat op skool in Pennsilvanië onder boelies deurgeloop het, gee vir haar grootste aanhangers ’n kans om haar ná optredes tydens haar Red-toer te ontmoet en gebruik haar platform as kunstenaar om hulle te help praat oor soortgelyke probleme.

“Ons kies ná die vertoning aanhangers, en hulle word gebring na ’n ongelooflike tent, Club Red. Ek ontmoet sowat 35 tot 40 aanhangers en luister na wat in hul lewe aangaan, of dit nou iemand is wat op skool op hulle pik of ’n geval is waar iemand ’n partytjie hou en elke meisie in die klas behalwe haar nooi. Dit het met my gebeur, en dis hoekom ek, as ’n kunstenaar, wil help,” het sy aan die tydskrif Top of the Pops gesê.

Taylor, wat op die Oseanië-skof van haar wêreldtoer is en einde vandeesmaand in Nieu-Seeland sal optree, het tydens haar vertonings in Amerika die verhoog met die gewese X Factor-deelnemer Cher Lloyd en Ellie Goudling gedeel en vertel van haar tyd saam met hulle. “Ellie is ongelooflik talentvol. Cher Lloyd was ongelooflik. Dit het gelyk of ons die danspassies beplan het, maar ons het net op dieselfde ritme beweeg.”