Taylor Lautner is weer ’n enkelloper. Die 22-jarige Twilight-akteur en die Kanadese model en aktrise Marie Avgeropoulos (28) het in 2013 begin uitgaan toe hulle aan die eersdaagse fliek Tracers gewerk het.

Maar volgens E! Online is die hartebreker weer op die mark nadat die paartjie op vriendskaplike voet uitmekaar is. Volgens ’n bron was daar nie ’n spesifieke rede hoekom hulle uitgemaak het nie, en geniet Taylor sy enkelloperstatus.

“Taylor gaan uit op afsprake en geniet homself. Niks ernstig nie,” vertel die bron.

Taylor en Marie het op die stel van Tracers ontmoet, en hul aanhangers was opgewonde oor die twee omdat hulle nie hul romanse weggesteek het nie – hulle is dikwels in New York gekiek en het oulik en gelukkig saam gelyk.

Dis nie die eerste keer dat Taylor uitgaan met meisies saam met wie hy gewerk het nie. Hy het ná ’n kortstondige verhouding met Selena Gomez in 2009 vir ’n rukkie met Taylor Swift uitgegaan nadat hulle op stel van die 2010 romantiese komedie Valentine’s Day ontmoet het. Hy het daarna by die Britse aktrise Lily Collins (25), vlerk gesleep – hulle het saam in 2011 in die fliek Abduction verskyn.

Maar hoewel hy ’n lang lys beroemde ekse het, is daar een vrou wat hy nie kan kry nie. Taylor is al van kleinsaf dol oor die 33-jarige aktrise Jessica Alba. Ongelukkig vir hom is sy getroud met Cash Warren, en het hulle twee dogters, Honor en Haven, saam. “Ek wou vanaf 10-jarige oduerdom met haar trou, maar dinge lyk nie goed nie, want sy’s getroud met twee kinders,” het Taylor in ’n onderhoud met die Britse tydskrif More! gesê.

“Ek het haar die eerste keer by die Superbowl ontmoet. Ek was so senuweeagtig dat ek nie kon praat nie. Ek het so simpel gevoel.”

© Cover Media