’n Beampte van die Stad Kaapstad se sogenaamde “spook-brigade” het daarop die man Dinsdagmiddag naby die Duinefontein-afrit van die pad laat trek.

Buiten die bestuurder was daar 13 passassiers in die taxi.

“Die beampte het gesien dat die bestuurder duidelik onder die invloed is en hy was ook onvas op sy voete,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, gesê.

Toe die bestuurder uitgevra is oor hoeveel hy gedrink het, het dit geblyk dat hy reeds die afgelope 24 uur sonder ophou gedrink het.

Hy is by die Bishop Lavis-polisiestasie aangehou vir dronkbestuur, die gebrek aan ’n professionele bestuurlisensie en nog verskeie ander oortredings.

“Hierdie is niks anders as die blatante minagting vir sy passassiers en ander padgebruikers nie. Ek hoop dat die proses vinnig afgehandel sal word gevolg deur ’n swaar straf om ’n duidelike boodskap te stuur dat sulke gedrag nie geduld sal word nie,” het JP gesê.

Wat sê die reg?

Regtens mag bestuurders net 0,05 g alkohol per 100 ml bloed hê.

Bestuurders mag as ’n reël net een eenheid alkohol per uur drink. Om baie water en sterk swart koffie te drink, ’n koue stort te neem of enige ander nugterword-wenke te beproef sal min doen om die alkoholvlak in jou bloed te verminder.

As ’n bestuurder skuldig bevind word aan dronkbestuur, kan hy ses jaar tronkstraf of ’n boete van R120 000 kry, sowel as ’n opgeskorte rybewys en ’n misdaadrekord.

’n Wynglas van 250 ml is sowat 3,3 eenhede, ’n bier is 1,25 eenhede en 25 ml whiskey of brandewyn is een eenheid. ’n Skemerkelkie en ’n sopie kan enige iets van 2 tot 4 eenhede per drankie bevat.

Bykomende bron: news24.com