Shirona Patel, Wits-universiteit se woordvoerder, het gesê talle studente het wel vandag eksamens afgelê.

“Die grootste meerderheid studente het wel by die kampus opgedaag om eksamen te skryf. Alle eksamens gaan voort soos gewoonlik.”

Sy het bygevoeg dat die wat nie vandag by die kampus kon uitkom nie vanweë die protesaksie wat verskeie hoofroetes in Gauteng lamgelê het, wel steeds hul eksamen kan aflê.

“Enige student wat nie in staat was om vanweë ’n goeie rede vandag kon eksamen skryf nie, moet aansoek doen om ’n uitgestelde eksamen binne drie dae te skryf. Studente kan volgens die normale riglyne aanlyn, deur middel van die selfhelp-portaal of by ’n fakulteitskantoor daarvoor aansoek doen,”  het sy gesê.

Herman Esterhuizen, woordvoerder van die Universiteit van Johannesburg, het gesê die eksamens is reeds afgehandel en daar was baie min studente op kampus. Die taxi-protesaksie het nie juis ’n groot impak op die universiteit gehad nie.

Unisa het in die sosiale media bekend gemaak dat studente wat hul eksamens in Gauteng misgeloop het, aansoek kan doen vir ’n spesiale eksamen.

Tukkies se studente wat vandag eksamens misgeloop het, sal eerskomende Donderdag kan skryf.

Bron: news24.com