Hulle sê as die mense in Windsor op iets wed, kan jy hulle maar glo. En iemand in Windsor het ’n enorme bedrag daarop gewed dat koningin Elizabeth gaan abdikeer . . .

Collage koning Elizabeth en prins Charles

KONINGIN ELIZABETH is een van die hardwerkendste koninklikes. Tog is dit duidelik dat sy ál meer van haar verantwoordelikhede aan Charles begin oorlaat.

So is Charles en Camilla, hertogin van Cornwall, einde verlede jaar as die koningin se verteenwoordigers na die Statebondsvergadering gestuur. En dié besoek aan Sri Lanka en Indië was ’n triomftog vir Charles, wat op 65 die langslewende afwagtende troonopvolger in die Britse geskiedenis is.

Op ’n leeftyd wanneer die meeste mense aan aftree begin dink en meer tyd by hul kleinkinders wil deurbring, begin hy nou eers om stadigaan die rol te vervul waarin hy gebore is.

Camilla vind genade

Camilla met tiara

Die koningin se besluit om Camilla toe te laat om haar op haar koninklike besoeke te vergesel, is nog ’n aanduiding dat sy haar onderdane – en die wêreld – gereed maak vir ’n tyd wanneer sy nie meer daar gaan wees nie.

Want wie weet beter as die koningin met hoeveel passie die Britse volk Camilla gehaat het toe haar verhouding met prins Charles op die lappe gekom en die geliefde Diana na Camilla as “die derde persoon” in haar huwelik met Charles verwys het?

Die koningin, wat glo al na Camilla verwys het as “daai vrou”, is nou gemaklik in haar skoondogter se geselskap, en hulle groet mekaar in die openbaar warm met ’n soen op die wang. Dalk is die koningin maar net verlig dat daar darem een vrou is wat haar oudste seun gelukkig kan maak . . .

William, Harry en familie help ook meer

prinse Harry en William

Die koningin is op 87 nog volstoom aan die gang. Só beplan sy vanjaar nog oorsese besoeke, hoewel sy die langafstandreise nou oorlaat aan Charles, William en Harry.

Die feit dat prins Harry die aktiewe weermagdiens verlaat om in Londen kantoorwerk te verrig, het meer te doen met die afskaling van die koningin se pligte as dat hy meer tyd by sy geliefde, Cressida, wil deurbring.

Daar word deesdae ook ál meer gesien van prins Edward se vrou, Sophie, en aan die modefront staan Sophie nie ’n tree terug vir Catherine nie.

Sal sy abdikeer?

Koningin Elizabeth

Ná haar triomfantelike Jubileumviering twee jaar gelede, die huwelik van prins William en die geboorte van prins George, kan koningin Elizabeth nou ook gerus wees dat die Windsor-dinastie veilig is.

Ek twyfel egter of sy ooit sal abdikeer. Daarvoor het die abdikasie van haar oom, Edward, wat die troon prysgegee het om met ’n geskeide vrou, Wallis Simpson te trou, te veel van ’n omwenteling in die koningshuis teweeggebring. (Gestel dieselfde skandaal sou vandag plaasgevind het, sou dit beteken het prins Andrew word die volgende koning en prinses Beatrice volg hom op.)

Tog wonder ek soms stilletjies of die koningskap van Charles nie ál nader kom nie, veral noudat sy en die koningin se kommunikasiekantore saamsmelt. Ek moet bieg die nuus dat iemand in Windsor (waar die koningin se gunsteling-kasteel is), ’n yslike bedrag op haar se abdikasie verwed het, het my laat wonder – maar net vir ’n oomblik. Weddenskappe uit Windsor word gewoonlik ernstig opgeneem omdat daar vermoed word die bieërs het toegang tot vertroulike inligting.

Tog, die koningin beskou koninginskap as 'n Godgewe en lewenslange taak.

En noudat navorsing wys 53 persent van mense wil hê Charles eerder as William moet haar opvolg, kan sy tevrede glimlag. Haar pogings om die koningshuis relevant in die moderne eeu te maak sonder om 'n greintje van haar misterie te verloor, het geslaag.

Op 87 kan sy nog jare aan bewind wees, en moontlik in 2015 koningin Victoria se rekord as die langs regerende monarg oortref.

- Arlene

Arlene foto Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Daar is min mense wat so baie soos sy van koningshuise oor die wêreld heen weet en daarom is sy Huisgenoot se koninklike blogger.