’n Vrou het per ongeluk haar eie mond toegeplak nadat sy Super Glue vir koorsblaarsalf aangesien het. Die vrou (64) was verstom toe sy haar diep in die nag misgis en gom pleks van salf aan haar lippe smeer. Sy het aan die Nieu-Seelandse 3 News gesê: “Ek hou al my salfies op ’n skinkbord in die kas, so toe ek uit die bed klim, het ek net in die skinkbord rondgevoel. Ek kon nie ruik nie, want my neus was toe. Toe ek weer in die bed klim, het ek dadelik begin wonder wat ek aan my lippe gesmeer het.” Die nooddienste was omtrent besorg oor die vrou se welstand toe hulle haar gemompel oor die foon hoor. Sers. Steve Aitken het aan die koerant Otago Daily Times gesê: “Die ambulans is ontbied, maar omdat die persoon gemompel het, was hulle onseker of dit ’n mediese probleem is en of iets in die persoon se mond gedruk is.” Die vrou is aanvanklik in die hospitaal opgeneem vir behandeling, maar is blykbaar reeds weer ontslaan.