Tannie Poppie en Rendil

kykNET-kykers het omtrent saam gehuil toe ’n emosionele tannie Poppie Coetzer (66) en haar spanmaat Rendil Pietersen in gisteraand se episode van Kokkedoor uitgestem is – en dit als oor ’n rou Skotse eier, die einste ding wat haar en Rendil drie tevore ’n oorwinning besorg het.

Terwyl sy op Tzaneen vakansie hou, vertel die “eliminator”, soos tannie Poppie op die kookprogram genoem is, Huisgenoot hoekom die trane so gevloei het. Sy gesels ook oor haar Kokkedoor-reis en verklap of sy ooit die kans gehad het om in haar baaikostuum in Prins Albert se dam te spring . . .

Ai, Tannie! Wat het fout geloop in gisteraand se episode?

Die tyd het ons gevang. Die ikoongereg was Skotse eiers, maar ons s’n was nie gaar nie. Toe hulle so begin tel: “10 . . . 9 . . . 8 . . .” was dit nog in die pot; Rendil het toe al gesê dis rou. Toe ons Romanz onthaal, was alles perfek en pragtig. Tot Hetta het gesê die kweperkonfyttert het in haar mond gesmelt, maar ai, die eiers . . .

Die trane het omtrent gevloei toe Tannie uitgestem is. Hoekom?

Ek het geweet ek kan die eiers maak, so dit was maar frustrasie. Ons het in episode agt gewen met die eiers . . . en toe val ons in episode 11 uit as gevolg daarvan. Dit was eintlik net tyd. Daar was swakker spanne, maar as jy nie jou ikoongereg klaarmaak nie, gaan jy huis toe.

So daar was ’n voorgevoel julle sou nie die paal haal nie?

Ja, ek het geweet. Die eier was ons einde.

Tannie is die “eliminator” gedoop. Herinner ons gou weer hoekom.

(Lag.) Ja, ek was die “eliminator” omdat al die manne met wie ek gewerk het een vir een huis toe gestuur is – eers Sarel Loots, toe Hannes Russouw en toe nou Rendil. Maar later het hulle my eintlik die “kweper-queen” genoem, want ek het in alles kwepers gesit. Almal wou weet hoekom. In die ou tyd het ons baie met kwepers gekook. Dis my gunsteling-vrug en so volop op Prins Albert, toe dink ek net: Hoekom nie?

Was dit ’n strategie om die manne so een vir een die trekpas te gee?

Nee, glad nie. Dis maar net hoe dit uitgewerk het. Ek het altyd goeie kommentaar op my kos gekry, maar my maatjies is uitgestem omdat hulle in die kombuis drooggemaak het.

Saam met wie het Tannie die lekkerste gekook – Sarel, Hannes of Rendil?

Rendil, veral omdat ons mekaar so goed aangevul het. As ek vir hom gesê het ek dink ons moet dit op so ’n manier doen, het hy gesê ons moet dit so probeer – behalwe vir die gemmerbier; hy wou nie daaraan byt nie. (Lag.) Ek het lekker saam met Sarel gewerk, maar ons probleem was spoed. Ons het te stadig gewerk. Ek en Rendil het ons pas beter gehou.

Is daar ’n deelnemer saam met wie Tannie nog wou kook?

Ja, Tiaan Langenegger. Dit sou wonderlik gewees het. Wanneer ons ons spyskaarte op daai groot swartborde geskryf het, het ek en Tiaan altyd in dieselfde rigting gedink – selfs al kon ons nie mekaar se borde sien nie.

Wat sou Tannie anders doen?

As ek eerlik moet wees, glo ek nie ek sou iets anders wou doen nie. Ek was die hele tyd myself en het uit my hart gekook. Ja, ek sou seker in gisteraand se episode die Skotse eier eerste gemaak het, maar andersins sou ek nie rêrig iets verander nie.

Tannie het jare se ondervinding met kos, maar het Tannie iets nuut geleer?

Ja, ek het geleer hoe om met gelatien te werk; ek het nog nooit daarmee gewerk nie. En dan het hulle daai poeier waarmee hulle souse dikker maak . . . moenie my vra watse poeier nie (lag). Dit was baie lekker om te sien hoe Rendil sonder water in die oond groente maak. In die ou tyd het ons groente in water gekook, maar vandat Rendil dit sommer met olyfolie in die oond druk, doen ek dit amper altyd by my huis ook.

Was dit vreemd om Tannie self op TV te sien?

Ja, dit was. Dit was goed. Ek het dit geniet. Ek het ook gesien hoe tree ek op wanneer ek kook, want wanneer ek kook, konsentreer ek net op die kos – nie hoe ek aangaan nie. Maar ek is bly ek was deurgaans myself. Ek het gegaan as Tannie Poppie en ek het huis toe gekom as Tannie Poppie.

Wat is die publiek se reaksie? Keer hulle Tannie op straat voor?

Mmm . . . jy wil nie dit weet nie! As ek dorp toe gaan, storm die mense op my af. Ek kan nie eens by ’n eetplek ingaan nie. Dis ongelooflik hoeveel aanhangers ek het – selfs op Facebook en Twitter. Ek kan dit nie glo nie. Die mense is baie lief vir my en dis lekker om te sien. Ek het vir my man gesê ek was myself, want ek het nooit iets negatiefs gesê – en tot vandag het ek ook nog nie negatiewe kritiek van die publiek gekry nie.

Facebook en Twitter? Tannie skrik darem nie vir tegnologie nie . . .

Ek is nou oud, maar my kinders is tegnologies aangelê. Ek het ’n seun wat in Saoedi-Arabië bly, toe koop hy vir my ’n BlackBerry. Eers het ek gedink: Hoe moet ek met die ding oor die weg kom? Toe leer hy my ’n ding of twee – nou is ek en my BlackBerry onafskeidbaar. Maar myne is oud en ek soek een met ’n groot skerm sodat ek mooi foto’s kan neem. My seun het ook onlangs vir my ’n Notebook gebring, so nou wil ek leer hoe om ’n e-pos te stuur en sulke goed. As ek vasbrand, kan ek hom altyd net ’n missed call Saoedi-Arabië toe gee.

Wat is Tannie se gunsteling-oomblik van die hele reeks?

My gunsteling-oomblik was toe almal in ekstase was oor my kaiings en varkvet. Dit was so lekker om dit te maak nes my ouma my geleer het. En natuurlik toe ek vir die bikers broodpoeding gemaak het.

Het Tannie darem op een van die bikes gery?

(Lag.) Nee! Op my ouderdom? Maar ek het net so aan een van daai lekker groot bikes gevat.

Van watter kos kan Tannie nie genoeg eet nie?

My gunsteling-kos is groente en skaapvleis. Ek’s baie lief vir skaapvleis. Dit was ’n ervaring om Karoo-skaap te eet, maar dit was heerlik. Ek geniet ook groenbone en stampmielies, beesstert en pampoenpoffertjies.

Wat lê nou vir Tannie voor?

Weet jy, ek wil eintlik minderbevoorregte mense wat kospakkies en so meer kry leer hoe om prakties en ekonomies te werk te gaan. As jy vir hulle ’n blikkie sardyne gee, dop hulle hom net so om op die bord en eet dit, maar jy kan omtrent sewe of agt verskillende geregte met daai blikkie maak! So ek wil hulle definitief leer hoe om lekker daarmee te kook. In die kompetisie was my oog ook nooit op die prysgeld nie, maar eintlik die kookboek, so ek sal graag nog ’n handgeskrewe een wil uitgee. Ek het vier kleindogters en ek sien hoeveel jong vroue nie kan kook nie, so dit sal wonderlik wees om so ’n kookboek te skryf. Kokkedoor het die saadjie in my kop geplant . . . so kyk uit daarvoor!

Hoe kan aanhangers kontak maak?

Op Facebook: Poppie Coetzer

Op Twitter: @poppiecoetzer

En net nog een vraag: Ek hoor Tannie het ’n baaikostuum ingepak. Het Tannie dit ooit gebruik?

Ek het! Ek en Riekies Huisamen het gaan swem. Die ander wou nie; hulle was te treurig (lag). Maar dit alles was ’n wonderlike ervaring, wat net een keer op mens se pad kom. Ek sal vir ewig dankbaar wees.

- Christiaan Boonzaier

KLIK HIER vir foto's van gisteraand se episode