In Cooksisters betree sy, met haar unieke humor, die politieke arena. Dié program word in die eerste helfte van die jaar as ’n voorspel tot die verkiesing uitgesaai.

Dis deel van ’n opvoedingsveldtog vir kiesers en ’n paar sterk, dinamiese politieke vroue gaan ook te sien wees. Cooksisters word op een van die SAUK se kanale vertoon, maar die uitsaaidatums en presiese kanaal is nog nie bekendgemaak nie. Ons het gou met Pieter gesels.

Vertel ons van jou terugkeer tot die televisie

Baie mense het al gesê daar was ’n leemte vandat ek Funigalore in 1994 gedoen het, maar ek het tussenin verskeie programme gehad. Ek het opvoedkundige programme vir kiesers gedoen sedert 1999, toe ek ses weke lank daarmee getoer het. Hierdie program handel oor hoe ek na 2014 kyk, en ek gebruik humor en onderhoude om die kollig te plaas op ’n belangrike tyd in Suid-Afrika.

Waarom word dit Cooksisters genoem?

Omdat ons net vroue nooi vir ’n geselsie en ete. Anders sou ek dit Braaiboeties genoem het! (Hy lag.) Ek dink ons het fenomenale vroue in hierdie land, en baie van hulle gaan in die program verskyn.

Jou nuwe verhoogstuk Adapt or Fly is baie goed ontvang.

Dit was ’n wonderlike 30 jaar lange reis vir my. In die vroeë 80’s het ek ’n eenmanvertoning, Adapt or Dye, gedoen. PW Botha het my toevallig die titel gegee; volgens ’n nuusberig het hy die woorde gebruik. Nou, 20 jaar nadat ons ’n demokrasie geword het, het ’n lid van die ANC-jeugliga in ’n gesprek gesê Suid-Afrikaners moet aanpas of vlieg. Ek dink dis baie gepas. Vanjaar gaan ons jong kiesers (die eerste keer) stem, ons vrygeborenes.

Jy het die voorreg gehad om onderhoude te voer met baie wonderlike mense. Wat was die hoogtepunt?

My beste was natuurlik tata Madiba, die bekendste mens ter wêreld. Ek het die eerste keer in 1994 met hom ’n onderhoud gevoer. Nou, 20 jaar daarna, leef sy nagedagtenis voort, asook sy veranderings en invloed in Suid-Afrika. Ek dink ons het van daardie dae af beheer oor ons land geneem, en wag nie meer net dat die regering dinge vir ons doen nie.

Elke keer dat ek op die verhoog is, is ’n hoogtepunt vir my; om te weet dié gehoor het na my kom kyk. Ek kan nie my absolute gunstelinge kies nie, want dit sal wees soos ’n ouer met ’n oogappel.

Wat is jou grootste lewensles?

Die enigste les is: Jy moet hard werk om dinge te laat gebeur.

Dink jy ons Suid-Afrikaners kan vir onsself lag?

O ja! Ons kan beslis vir onsself lag. Baie van ons weet nie dat ons president, Jacob Zuma, self wonderlike grappe maak nie. Ek dink daar is ’n verskil tussen komedie en humor. Komedie gaan oor die grap, en humor is hoe ons vir ons vrese lag en dit minder skrikwekkend maak.

Watter grafskrif sal jy kies?

Hy het darem mooi bene gehad! (Hy lag lekker.)

GILDA NARSIMDAS