Tandekry: Dit is genoeg om die meeste ma’s te laat koud raak. Die trane, die slapelose nagte (vir ma en baba) en die gevoel van magteloosheid soos jy jou baba sien sukkel, laat die meeste ma’s desperaat na hulp soek. Ons het met sr. Lillian Paramor (van die Sister Lillian-sentrum), sr. Lorraine Mey en die pediater dr. Alison Baxter gesels en hierdie oorlewingsgids vir jou saamgestel.

Bly kalm

Ongeag hoe hulpeloos jy voel, moet jy onthou dat daar niks is wat jy kan doen om jou baba se tande vinniger te laat uitkom nie. As jy en jou baba min slaap gekry het en julle albei net nog angstiger raak, moet jy iemand kry om op die slegste dae hand by te sit. Dr. Baxter stel voor ’n goeie ondersteuningstelsel vir ma’s. “Iemand moet beskikbaar wees om bedags na die baba te kyk sodat sy ’n bietjie kan slaap,” stel sy voor.

Ouvroustories

Ma’s moet onthou dat elke baba verskillend tande kry. Daar is baie ouvroustories, soos om ’n eier in ’n sokkie te sit of ’n gatjie in ’n muntstuk te boor en dit aan jou kind se trui vas te speld. Geeneen van dié rate help egter jou kind deur dié fase nie. Die beste raad is om soveel moontlik oor tandekry te weet. Hou dan by die roetine wat die beste vir jou en jou baba werk.

Wanneer tandekry nie die probleem is nie

Sr. Lorraine sê: “Onthou, tandekry is ’n natuurlike proses. Ma’s trap gewoonlik in die strik dat hulle alles op tandekry blameer. ’n Kind kan nie bedags gelukkig wees en dan eensklaps snags ongelukkig wees nie. As ’n baba siek is, is hy heeldag siek; as ’n kind tandekry, kry hy heeldag tande. Jy moet die verskil raaksien tussen siek wees en tandekry. As jou baba ’n koors van 38 °C of hoër het, is dit nie tandekry nie. Die kind is dalk siek; raadpleeg ’n dokter.”

Help die pyn verlig

Ons kenners stel die volgende voor vir pyn tydens tandekry:

  • Gee die baba ’n yslollie om aan te suig as hulle oud genoeg is (vries rooibostee of vars vrugtesap).
  • ’n Bytring is heerlik om aan te knaag.
  • Sit tandejel of -poeier aan ’n skoon vinger en vryf aan die baba se tandvleis.
  • As die baba baie stadig en moeilik tande kry, kan die weefselsout Calc. Phos. toegedien word om die proses te vergemaklik.
  • Die baba gaan dalk nie wil eet nie. Wees geduldig hieroor; hul eetlus gaan verbeter sodra hulle beter voel.
  • Los stoelgang verwant aan tandekry kan verlig word met kamilletablette en probiotika.

Bytringe

Daar is baie sulke speelgoed op die mark. Baie hou voor dat hulle jou kind deur die moeilike fase kan help.

As ’n holistiese gesondheidspraktisyn is sr. Lillian van mening dat bythalssnoere werk. “Ek glo baie babas vind baat by die jare oue tradisionele geneesmiddel amber-bythalssnoere, en as ’n natuurlike gesondheidspraktisyn glo ek dat dit verband hou met die elektromagnetiese veld van die mineraalsteen.”

Nie sr. Lorraine of dr. Baxter glo bytringe kan die probleme oplos wat met tandekry verband hou nie. Hulle sê sekere middels werk vir sekere kinders en nie vir ander nie, want elke kind verskil. “Party ouers glo die halssnoere werk, maar daar is geen mediese rede wat aandui dat dit werk nie. As dit werk, is dit moontlik as gevolg van ’n placebo-effek.”

Wat van medisyne?

Sr. Lillian: Die Sister Lillian homeopatiese geneesmiddel kamilletablette is baie nuttig om die meeste simptome verwant aan tandekry te verlig. Die weefselsout Calc. Phos. is ook aangedui as die baba baie stadig tande kry. Dit is by die meeste apteke en gesondheidswinkels te kry.

Sr. Lorraine: Gebruik net medisyne wanneer dit regtig nodig is, en nooit in oormaat nie. ’n Plaaslike verdowingsmiddel kan op die baba se tandvleis gesmeer word en parasetamol kan vir pyn toegedien word.

Dr. Baxter: Probeer om nie van medikasie afhanklik te wees nie, maar dien ibuprofeen toe vir pyn as dit regtig nodig is, maar nie elke aand nie. As die baba ’n hoë koors het en uitermate ongemaklik is, moet jy jou dokter raadpleeg. Moenie jou kind Stilpane- of Stopain-tablette gee nie; dit is ongeskik vir kinders onder die ouderdom van twee.

L.W. Alle medikasie moet toegedien word soos op die verpakking voorgeskryf en nooit vir langdurige tydperke nie.

-Londiwe Dlomo