Dr. Walter James Palmer, ’n tandarts van die Amerikaanse deelstaat, Minnesota, is Dinsdag geïdentifiseer as die jagter wat na bewering die leeu Cecil vroeër in Julie met aas uit die Hwange Nasionale Park gelok het en met ’n kruisboog geskiet het. Die dier se kop is daarna afgesny en sy vel afgetrek.

Die leeutrofee is gekonfiskeer.

Die voorval het aan die lig gekom nadat Theo Bronkhorst, ’n professionele jagter van Zimbabwe en eienaar van Bushman Safaris in Bulawayo, onlangs in die hof verskyn het op ’n aanklag van die stroop van dié leeu.

Die 13-jarige leeu het ’n halsband aangehad en is deur navorsers gevolg.

’n Woordvoerder van die Zimbabwiese polisie, Charity Charamba, het gister gesê hulle is ook op soek na Palmer in verband met die saak.

Volgens oorsese berigte het Palmer geglo dat die jagtog wettig was en da thy spyt oor die voorval is.

’n Plaaslike plaaseienaar, Honest Ndlovu, sal saam met Bronkhorst in die hof verskyn op aanklagte van stropery.

Bronkhorst word ook daarvan beskuldig dat hy probeer het om die halsband te vernietig.

Bronkhorst se seun Zane word ook vir ondervraging gesoek.

Bronne: SkyNews, News24, CNN