Toe gerugte op sosiale media die ronde begin doen dat haar motor met petrolbomme bestook is ná haar opspraakwekkende uitspraak op 6 Julie, is dit as deur sommige as die waarheid opgeslurp.

Die kwaadstokers agter die gerugis na bewering MzansiLive.co.za, wat Woensdag as ’n tragiese dag vir die regter bestempel het.

Die artikel dui voorts daarop dat die uitspraak nie goed deur Suid-Afrikaners en Reeva-ondersteuners ontvang is nie, ook dat die ANC se Vroueliga die vonnis as ’n belediging vir die regstelsel bestempel het.

In dieselfde berig word bronne “na aan die regter” aangehaal wat beweer haar motor is op pad huis toe met petrolbomme bestook.

“Twee petrolbomme is na regter Masipa se motor geslinger: Een het die voorkant getref en die ander is binne-in die motor gegooi deur ’n oop ruit.

“Ek het vinnig gereageer toe ek vlamme en rook gewaar en hoewel ek ’n ent weg was, het ek haar betyds bereik. Sy was reeds flou. Die oortreders het die toneel in ’n swart Toyota sportnutsvoertuig verlaat,” het die bron glo gesê.

Volgens die berig het die nooddienste ook langer as die normale reaksietyd geneem om te reageer. ER24-woordvoerder, Chitra Bodasing, het dit na bewering ontken.

Wat die berig meer ontstellend gemaak het, was die foto van ’n motor in vlamme gehul wat saam met die artikel geplaas is.

’n Anonieme familielid het ook bekendgemaak dat die regter in ’n stabiele toestand in die hospitaal is.

“Die tragedie hiervan is dat ons almal glo dit het iets met die Pistorius-saak te make. As ’n familie sê ons ook dankie aan die barmhartige Samaritaan wat haar vinnig genoeg uit die motor gehaal het; sy kon doodgebrand het.” Die voorsitter van die regbank, Nathi Mncube, het aangedui dat hy van die bewerings bewus is, maar dat ’n verklaring later uitgereik sal word. Die ER24-woordvoerder Chitra Bodasing het aan The Argus gesê dat hulle geensins bewus is van so ’n voorval nie. Die foto wat deur Mzansilive gebruik is, is afkomstig van ’n ongeluk in China op 2 Junie. Die motor was in ’n botsing met ’n bus betrokke.

Bronne: mzansilive.co.za, iol.co.za, bsccomment.com, news.google.co.za