Die leerders het hul laaste eksamenvraestel geskryf en met die eksamen wat verby is, het hulle ook hul skoolloopbaan vaarwel toegeroep. En daarmee saam natuurlik ook hul skoolskoene.

Die skool het op hul Facebook-blad ’n foto van die skoene gedeel en ’n inskrywing by die foto het bevestig dat die skoene aan minderbevoorregte leerders geskenk sal word.

Dié foto het in die sosiale media baie aandag getrek. Dit is meer as 18 100 keer gedeel en meer as 25 000 mense het die foto “ge-like”. En kort daarna het oudleerders van die skool splinternuwe skoolskoene vir die projek geskenk.

Maar Randfontein High was nie die enigste skool met dié plan nie. Ook die leerders van Midstream College in Midrand het hul skoene uitgetrek.

“Meeste van die matrieks wat hul laaste eksamenvraestel geskryf het, het die skool verlaat op dieselfde manier wat hulle in gr.1 begin skoolgaan het – kaalvoet!” het die skool se Facebook-inskrywing gelui. “Hierdie skoolskoene word aan behoeftige gemeenskappe geskenk.”

En net so is die Hoërskool Waterkloof in Pretoria se matrieks kaalvoet huis toe.

Die Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzburg se matrieks het ook hul skoene geskenk.

En selfs so ver as die Noord-Kaap het matrieks hul skoolskoene uitgeskop en die grootmenslewe ingestap. Hulle skenk hul skoene aan die ACVV.

Op Groblersdal in Limpopo het die leerders van die Hoërskool Ben Viljoen hul skoolskoene uitgetrek.

“Die matriekleerders van 2016 het hul skoolskoene uitgetrek ná die laaste vak wat hulle geskryf het op Maandag 28 November 2016, en by die skool agtergelaat. Dit dui as simbool van die ‘groot skoene’ wat hulle laat om gevul te word deur die huidige leerders van die Hoërskool Ben Viljoen sowel as die toekomstige leerders,” het die skool op hul Facebook-blad verduidelik.