Skaars ses maande nadat ’n Tunisiese man met ISIS-bande in ’n vragmotor 86 mense tydens ’n Bastilledag-vuurwerkvertoning in Nice, Frankryk, afgemaai het, het ’n soortgelyke voorval Maandagaand in Berlyn, Duitsland afgespeel.

Minstens twaalf mense het omgekom en ’n verdere 48 is beseer toe ’n vragmotor met twee insittendes in ’n besige Kersmark in die Duitse hoofstad ingeploeg het.
Volgens die polisie het die vragmotor bo-oor tafels en Kersstalletjies gejaag.

Dié gewilde Kersmark buite die Kaiser Wilhelm-gedenkkerk is gewoonlik hierdie tyd van die jaar volgepak met plaaslike inwoners en toeriste. Die vragmotor het omstreeks 20:00 (21:00 Suid-Afrikaanse tyd) in die skare ingejaag. ’n Verdagte, vermoedelik die bestuurder van die vragmotor, is kort daarna op die toneel aangekeer. Sy medepassasier het op die toneel beswyk. Daar word berig die bestuurder is ’n immigrant van Pakistan. 48 mense is na omliggende hospitale geneem; sommige het ernstige beserings opgedoen.

Owerhede kon nog nie met duidelikheid sê of die aanval doelbewus, terreurverwant of ’n ongeluk was nie.

Amerika se nuutverkose president, Donald Trump, het egter klaar Islamitiese groepe vir die aanval blameer, maar dis onduidelik waarop hy sy uitlatings baseer.

Die vragmotor het na berig word ’n Poolse registrasienommer en is as gesteel aangemeld.

Bronne: CNN; The Guardian; Fox news