Minstens veertien mense is dood en talle is onder rommel vasgevang nadat ’n massiewe aardbewing vroeg Woensdagoggend die sentrale deel van Italië getref het.

Die New York Times berig die aardbewing, wat 6,2 op die Richterskaal gemeet het, se trillings kon tot in Rome, byna 200km weg, gevoel word. Die aardbewing het omstreeks 03:36 Woensdagoggend plaasgevind. Groot dele van die dorpe Amatrice en Accumoli, wat sowat 15 km van mekaar is, en Pescara del Tronto, wat sowat 14km van Accumoli is, is in chaos gedompel.

Sergio Pirozzi, burgemeester van Armatrice, het volgens die Daily Mail aan die RAI staatstelevisiekanaal gesê “die helfte van die dorp is weg. Die paaie in en uit die dorp is afgesny”. Die paaie is onbegaanbaar weens skade en ’n brug wat op pad na die dorp is, is verwoes.

Volgens Sergio is mense in Armatrice dood en is talle nog onder die rommel vasgekeer.

Owerhede het ook gesê minstens twee mense is dood in Pescara del Tronto.

Die aardbewing se pad van verwoesting is ook in ander plekke gesien, soos teen die kus van die Tirrheense See. The New York Times berig ’n ooggetuie in Sperlonga, ’n gewilde kusdorp in Lazio, sê die historiese middestad van dié dorp is erg beskadig.

Italiaanse beamptes het gesê in dié stadium is dit nog moeilik om te bepaal hoeveel mense dood is en hoeveel skade aangerig is omdat die aarde regdeur die oggend nog gebewe het.

Die nasionale instituut van geofisika en vulkanologie het aan The New York Times gesê in die twee ure ná die reuse-skudding van 6,2 was daar nog meer as ’n dosyn aardbewings in die geaffekteerde gebied, maar nie een was so sterk soos die eerste een nie.

Bronne: Daily Mail, The New York Times,