Talle mense is Maandag in ’n moontlike chemiese lekkasie by ’n fabriek in La Bassee-straat in Germiston beseer.

ER24-woordvoerder Russel Meiring het gesê met paramedici en verskeie ander nooddienste se aankoms op die toneel, is naastenby 100 mense buite die fabriek aangetref.

Dit wil voorkom asof die fabriek die perseel ná ’n chemiese lekkasie laat ontruim het.

Plaaslike wetstoepassers is besig om die pad af te sper terwyl verskeie nooddienste besig is met hulpverlening op die toneel.

Dit is onduidelik wat die aard van al die beserings is, maar talle fabriekswerknemers ondervind onder meer asemhalingsprobleme.

Van die beseerdes is op die toneel behandel waarna verskeie slagoffers van die lekkasie vir verdere mediese behandeling na hospitale geneem is.