Sporadiese ontploffings word glo steeds gehoor. Die dodetal staan tot dusver op vier en tientalle is beseer.

Luidens berigte kom dit voor of toeristebestemmings spesifiek die teiken van die aanvalle is.
Vier ontploffings het die afgelope 24 uur in Hua Hin, sowat 200 km van Bangkok, plaasgevind. Dit het tot die dood van twee mense gelei.
Die bomme, waarvan twee in potplanthouers sowat 50 m van mekaar versteek was, het binne ’n halfuur naby ’n gewilde kroeggebied ontplof.
Toeriste en buitelanders tel onder die beseerdes. Volgens The Guardian is 10 toeriste tot dusver beseer. Hulle wissel in ouderdom van 16 tot 48 en dit sluit twee Nederlandse vroue en ’n Nederlandse man in.
Waar die ander ontploffings tot dusver plaasgevind het: Twee ontploffings in Surat Thani, waarvan een van die bomme naby die polisiekantoor ontplof het. Een mens het gesterf terwyl talle beseer is. Twee ontploffings in die gewilde toeristebestemming Patong op die eiland Phuket. Een ontploffing in Trang waartydens een mens gesterf het. Verskeie ontploffings in Phang Nga.
Thailand se eerste minister, Prayuth Chan-ocha, het aan die media gesê die bomme is daarop gemik om chaos en verwarring te veroorsaak. Luidens berigte het kol. Krisana Patanacharoen van die Thaise polisie gesê die bomaanvalle hou nie met terrorisme verband nie.
Veiligheidsmaatreëls by Phuket se internasionale lughawe en vervoersentra is verskerp en buitelandse ambassades het ’n waarskuwing aan toeriste uitgereik om waaksaam te wees.
Die aanvalle kom enkele dae ná die omstrede verkiesing in Thailand, waar 61 persent van die kiesers die militêre grondwet gesteun het. Die verkiesing is gelooi deur onder meer bewerings van gebrekkige toesighouding tydens die stemproses.
Tydens politieke onrus tot die militêre oorname in Mei 2014 was daar gereelde bomontploffings. Op 1 Augustus het vrywilligers ontkom toe ’n bom met afstandbeheer geaktiveer is tydens een van hul patrollies. Dié voorval word toegeskryf aan ontevredenheid oor die verkiesing.
Die laaste groot bomontploffing, waartydens 20 mense gesterf het, was ’n jaar gelede by die Erawan-tempel in Bangkok.

Bronne: bbc.com, 9news.com, ibtimes.co.uk, theguardian.com, sputniknews.com, bangkokpost.com, hrw.org