Die rooi tapyt het gewemel van bekendes vir die première van die nuwe kykNET-fliek, Lien se Lankstaanskoene.

Almal het Donderdagaand 18 April in Menlyn, Pretoria,  opgewonde die fliek gaan kyk en ’n paar eetgoed geniet.

Die hoofkarakter in die fliek, Lien Jooste, word vertolk deur die talentvolle Carmen Pretorius.

Lien se Lankstaanskoene is die aangrypende verhaal van ’n matriekmeisie wat midde-in ’n familiekrisis leer ’n mens het gewoonlik ’n eenvoudige keuse: Sink óf swem.

Die rolverdeling bestaan onder meer uit Franci Swanepoel, Marie Pentz, Hykie Berg, Elize Cawood, Fiks Mahola, Angelique Gerber, Johan Baird, Eben Groenewald, Tiaan Kelderman, Brian Webber en Magda van Biljon.

Die boek waarop Saartjie Botha se draaiboek gegrond is, is vanjaar in sommige provinsies ’n voorgeskrewe boek vir matrieks.

Lien se Lankstaanskoene word op 3 Mei 2013 uitgereik. Dis vervaardig deur Spookasem Films. André Odendaal is die regisseur.