In ’n huldeblyk deur die destydse premier van die Wes-Kaap, Ebrahim Rasool, is Taliep beskryf as iemand wat “ons hele geskiedenis vasvat, ons diepste pyn uitdruk, ons vreugde uitspreek en ons menslikheid deur musiek en drama uitbeeld”.

Maar wie was die man met daardie onblusbare glinster in sy oë wat tot vandag nog diep spore trap?

Taliep was die tweede oudste van 13 kinders.

“Ek het opgegroei met baie liefde. Ons het nie ryk groot geword nie, ons het met baie armoede grootgeword – maar ryk in liefde ,” het Taliep jare gelde tydens ’n onderhoud gesê.

Niks het hom gekeer nie. Sy jarelange verbintenis met David Kramer het verskeie baanbreker musikale produksies die lig laat sien. En as jy dit eers een keer gesien het, wou jy dit weer sien . . .

1. District Six: The Musical

2. Poison

3. Fairyland Crooners

4. Kat and the Kings

5. Klop Klop

6. Spice Drum Beat: Ghoema

Die produksies het nie net Suid-Afrikaners se harte verower nie. Kat and the Kings het in Las Vegas, Broadway (New York) en die West End (Londen) gehore vermaak.

Dit is boonop in 1999 met die Laurence Olivier-toekenning bekroon.

  Die sitcom Ali Barber was ook in 2002 Taliep se breinkind. In 2005 is ’n tweede seisoen van Ali Barber op kykNET vertoon. Sondagaand, 16 April, word daar om 20:00 op KykNET hulde gebring aan Taliep.

’n Musikale rondomtale uit Kat and the Kings

Wees gewaarsku - hierdie musiek gaan jou laat regop spring en dans! En dan ook ’n traan of twee stort. . .

Dié klankbane is opgeneem tydens die groep se optrede by die Vaudeville-teater in Londen, 6 Junie 1998.

Salie Daniels, Jody Abrahams, Loukmaan Adams, Junaid Booysen, Alistair Izobell, Mandisa Bardill, Jonathan Savage, Dean Hussain, Sophie Joyce het daarin opgetree.

Bykomende bron: wikipedia.org