Dit volg nadat  die stad se polisiehoof ná ’n reeks aanvalle bedank het.

Met die einde van die Navo-oorlog (onder leiding van Amerika) teen die Taliban in sig, het insurgente in die laaste paar weke buitelandse gastehuise,  ambassades se voertuie, Amerikaanse troepe en ’n vroulike parlementslid geteiken.

Werner Groenewald (46), sy seun, Jean-Pierre (17), en dogter, Rode (15), is in Sondag se aanval op Partnership in Academics and Development, ’n klein onderwysgroep van Kalifornië, se perseel dood.

[caption id="attachment_88992" align="aligncenter" width="630"]Werner Groenewald. Foto: quora.com Werner Groenewald. Foto: quora.com[/caption]

Werner se vrou, Hannelie, ’n dokter, was by die werk toe die aanval begin, het Hannelie se suster Riana du Plessis, wat die familie se woordvoerder is, aan AFP gesê.

Ontploffings en geweerskote het drie uur lank geklink terwyl Afghaanse elite-kommando’s geveg het teen drie militante wat eindelik doodgemaak is.

“Hul huis het afgebrand,” het Riana gesê. “Hannelie is Maandagoggend terug om ’n paar besittings te red, maar daar was niks te redde nie.

[caption id="attachment_88993" align="aligncenter" width="450"]JP Groenewald. FOTO: Facebook JP Groenewald. FOTO: Facebook[/caption]

“Sy het alles verloor – haar man, kinders, katte en honde.”

Die Taliban-woordvoerder Zabiullah Mujahid het op Twitter beweer die grond het aan ’n geheime Christelike sendingsgroep behoort.

Riana en vriende van die Groenewalds in Kaboel het gesê die familie was toegewyde Christens, maar was nie sendelinge nie.

Baie internasionale hulpwerkers, diplomate and konsultante werk in Kaboel, maar baie min se families vergesel hulle.

“Te midde van hierdie moedswillige aanval is Partnership in Academics and Development steeds daartoe toegewy om opvoedkundige hulpbronne aan Afghaanse burgers te verskaf,” het die liefdadigheidsorganisasie op hul webtuiste gesê.

’n Familiewebtuiste beskryf hoe die Groenewalds in 2002 met hul twee kinders Kaboel toe getrek het.

Dit het gesê Werner was ’n pastoor in Pretoria, terwyl Hannelie is ’n gekwalifiseerde dokter is wat die “siekes in Afghanistan se noodroep geantwoord het”.

Die polisiehoof van Kaboel, genl. Zahir Zahir, het Sondag bedank, kort nadat hy bevestig het dat drie Suid-Afrikaners en ’n Afghaanse burger in die aanval omgekom het.

“Die aanvallers het die direkteur eerste doodgeskiet soos hulle die gebou binnegekom het,” het Zahir by ’n mediakonferensie gesê.

Die getal Navo-troepe in Afghanistan het in 2010 ’n hoogtepunt van 130 000 bereik, maar het intussen skerp gedaal. Hul sending eindig op 31 Desember.

Daar is groeiende vrees dat die afnemende internasionale teenwoordigheid reeds die Islamitiese opstand aanmoedig.

Die sending sal vervang word deur ’n mag van 12 500 wat die Afghaanse weermag en polisie ondersteun; dié het die taak aanvaar om die Taliban te probeer stuit.

In Saterdag se aanval is ’n aangrensende gebou in vlamme gehul toe veiligheidsmagte die militante gesoek het; minstens een van die militante het ’n selfmoordbom laat ontplof.

Donderdag het die Taliban by ’n internasionale gastehuis toegeslaan. Een wag is beseer en ’n selfmoordbomaanvaller het ’n Britse ambassade geteiken in ’n ontploffing wat ses lewens geëis het.

Kaboel is in die afgelope twee weke deur minstens nege aanvalle getref.

Pres. Ashraf Ghani het die Taliban Sondag beskryf as ’n “klein minderheid wat die nasie wil kaap”.

[caption id="attachment_88994" align="aligncenter" width="300"]Rode Groenewald. FOTO: Facebook Rode Groenewald. FOTO: Facebook[/caption]

“Ons sal dit nie toelaat nie,” het hy belowe.

Militante in die suidelike provinsie Helmand het verlede week ook toegang verkry tot Camp Bastion, ’n groot Navo-basis wat verlede maand oorhandig is.

Minstens vyf Afghaanse soldate is in die konflik dood voor orde Saterdag herstel is, het Ghulam Farooq Parwani, ’n senior kommandant in die Afghaanse weerma, aan AFP gesê.

Pres. Ghani, wat in September verkies is, het beloof om ná dekades se konflik weer vrede in Afghanistan te bring. Hy sê hy is gewillig om te praat met die Taliban, wat tussen 1996 en 2001 im beheer was.

Hy het eindelik president geword nadat hy ’n ooreenkoms gesluit het met sy teenstander in die verkiesing, Abdullah Abdullah.

Die twee mans het albei op oorwinning aanspraak gemaak in korrupte verkiesings; die konfrontasie het politieke verlamming in Kaboel veroorsaak en landwye geweld vererger.

Pres. Ghani en Abdullah sal Maandag Brussels toe reis vir Navo-vergaderings en sal dan Londen toe reis vir ’n skenkerkonferensie Donderdag met die doel om die “nasionale koalisieregering” te wys en om voortgesette internasionale steun vir Afghanistan te demonstreer.

Afghaanse soldate en polisie het stygende verliese gely; vanjaar is meer as 4 600 dood omdat hulle die Taliban met minder hulp van die Amerikaanse weermag moet beveg.