[caption id="attachment_136198" align="alignnone" width="600"]Junior sjefs kom by die kompetisie aan. Foto: Jacques Myburgh Junior sjefs kom by die kompetisie aan. Foto: Jacques Myburgh[/caption]

Sewe senior en sewe junior sjefs kom teen mekaar te staan om te bepaal wie in dié twee kategorieë as sjef van die jaar aangewys sal word.

“Jy moet baie oefening agter die rug hê en ’n bord met harmonie kan optower,” sê sjef Garth Shnier, lid van die Wêreld-sjefvereniging en een van die beoordelaars.

Dit is die oudste kookkompetisie in die land en is al langer as 40 jaar aan die gang. “Dit is ’n goeie platform vir sjefs om opgemerk te word en in hul loopbaan uit te blink,” sê hy.

[caption id="attachment_136199" align="alignnone" width="600"]Van die vars produkte wat die sjefs tydens die kompetisie gebruik. Foto: Jacques Myburgh Van die vars produkte wat die sjefs tydens die kompetisie gebruik. Foto: Jacques Myburgh[/caption]

Sjefs moet Unilever Food Solutions-produkte gebruik om ’n voorgereg, hoofgereg en nagereg te maak. Die kategorie vir juniors is vir sjefs tussen 18 en 24 en die senior sjefs moet 25 jaar of ouer wees. Die sjefs kry drie uur om hul geregte te berei.

“Ons mandaat is om saam met sjefs te werk, hulle te leer ken, hulle te leer oor die uitdagings waarmee hulle elke dag te doen gaan kry, en oplossings te vind wat hul lewe in hul kombuis makliker sal maak,” sê Remco Bol, besturende direkteur van Unilever Food Solutions Suid-Afrika.

In die kategorie vir seniors sal die sjef van die jaar met ’n kontantprys van R20 000 wegstap. Die naaswenner kry R10 000 en die sjef in die derde plek R5 000. Die junior sjefs wen R15 000 vir die eerste plek, R7 000 vir die tweede en R5 000 vir die derde plek.

Die wenners sal vanaand by die prysuitdeling aangekondig word.