Sylvester Stallone en Arnold Schwarzenegger het glo 20 jaar lank niks van mekaar gehou nie.

Die tawwe tienies van Hollywood is nou albei te sien in die aksieriller Escape Plan. Sylvester het vandeesweek op die rooi tapyt by die première van die rolprent in New York gesê: “Ons het 20 jaar lank niks van mekaar gehou nie. Dit wys jou, ’n goeie vyand is moeilik om te vind. Eindelik waardeer jy hulle op ’n manier. Miskien het ons gekom waar ons is omdat ons so mededingend was.”

Sylvester (67) en Arnold (66) het mekaar poetse gebak tydens verfilming by een van die geboue van die Amerikaanse National Aeronautics and Space Administration (Nasa).

Een van hul grootste grappies het veroorsaak dat veiligheidswagte hulle laat uittrek het om hulle te deursoek.

Sylvester het vertel: “Ons het op ’n Nasa-basis gewerk. Ek het die hek gebel en gesê daar gaan verdagte goed aan in ’n swart paneelwa. Hulle het Arnold uitgetrek en deursoek. Toe het hy my teruggekry en ek moes net so deursoek word. Arnold maak die hele tyd grappies.”