Bianca is Saterdagaand tydens ’n glansgeleentheid by die Kloofzicht Lodge & Spa aangewys as die wenner van die Apprentesses of Angelique Gerber-kompetisie.

Bianca is gekies om vir ’n jaar onder die bestuur van BLCK Group en Angelique se mentorskap die glanswêreld te betree.

“Dit is meer as net ’n skoonheidskompetisie,” sê Tarien Cronjé,hooforganiseerder van die kompetisie. “Deelnemers is op talle maniere beoordeel om die beste kandidaat te vind. Vyf en sestig finaliste is uit honderde inskrywings gekies om een volle dag deurgaans beoordeel te word. Die beoordelaars het getoets of die kandidaat aan alle vereistes van ’n glanspersoon voldoen. Kandidate is onderwerp aan intensiewe onderhoude, hulle moes bemarkingsaanbiedinge doen, terugvoer gee oor liefdadigheidsprojekte en in bikinidrag beoordeel word.”

Aangesien die wenner vir die volgende jaar nou met Angelique gaan saamwerk, het die aktrise ook besliste idees gehad oor wie eindelik met die prys moes wegstap. “Ek was nie net op soek na ’n mooi gesiggie nie. Die wenner moes iemand wees met wie ek oor die weg sal kom en vir wie Suid-Afrika lief kan raak,” sê Angelique oor die vereistes wat sy gehad het vir haar protégé. Om hierdie rede het Angelique se keuse groot gewig gedra tydens die beoordelingsproses.

Van kandidate is verwag om byvoorbeeld vir Angelique geskenke te gee en dan te motiveer waarom die geskenk perfek by Angelique pas.

Onder die 14 beoordelaars was verskeie bekendes, onder andere die akteurs, skrywers en vervaardigers Donnalee Roberts en Ivan Botha, Chantelle Swart (eerste prinses, Mev. Suid-Afrika), die sangeres Liza Brönner en die Jacaranda FM-omroepers Morné JK en Kriya Gangiah.

Bianca was aangenaam verras toe sy wen. “Ek het ingeskryf met die doel om te wen, maar toe hulle aankondig ek is die wenner, was ek totaal uit die veld geslaan. Daar was soveel sterk kompetisie en ongelooflike dames wat deelgeneem het dat ek regtig bevoorreg is om die titel te dra. Ek wil hierdie platvorm tot die beste van my vermoë gebruik en my eie handelsmerk en die Apprentesses-handelsmerk tot nuwe hoogtes voer.”

Met haar rol as Klara in 7de Laan en toe as aanbieder van Boer Soek ’n Vrou het Angelique ons almal geleer om nooit op te hou droom nie. Nou wil sy Bianca ook leer dat drome kan waar word.

Angelique Gerber