[caption id="attachment_119661" align="alignnone" width="600"]Franziska se pa, Florian, saam met Franziska en haar jonger suster, Foto: Facebook Franziska se pa, Florian, saam met Franziska en haar jonger suster, Foto: Facebook[/caption]

Franziska se lyk is Maandag in die Tokaiwoud in Kaapstad gevind. Sy het die middag tydens ’n gesinsuitstappie deur die woud gaan draf.

Haar ouers, Florian en Shireen Blöchliger, het aan EWN gesê hulle gaan ’n beloning uitloof. “Ons bied ’n groot beloning aan die persoon wat enigiets vind of hoor wat tot die inhegtenisname en skuldigbevinding kan lei van die persoon wat dit aan ons dogter gedoen het.”

Florian het gesê die beloning sal sowat R50 000 wees.

Hy het ’n beroep op die gemeenskap en Suid-Afrika gedoen om hulle te help om die moordenaar te vind.

“Nie net sodat ons hom in die tronk kan stop nie, maar sodat hy dit nie aan iemand anders kan doen nie, want as hy so iets een keer kon doen, sal hy dit weer doen . . . dalk het hy dit al tevore gedoen.”

Die familie het gister met verslaggewers in hul huis in Kalkbaai vergader.

“Ons is verpletter deur die verlies van ons kind,” het Franziska se ma, Shireen, aan EWN gesê. “Ons kan nie begin om te probeer verstaan hoekom iemand dit kon doen nie.”

Shireen het vertel haar dogter was “pragtig van binne en buite,” en dat die familie nie weet hoe hulle gaan aanbeweeg na die verlies van hul pragtige kind nie.

“My dogter is onverwags uit hierdie wêreld geruk,” het Florian, wat van Switserse afkoms is, gesê.

“Dit was die aakligste dag van my hele lewe. Ek het 20 jaar gelede hierheen gekom van Switserland af. Hierdie land het my nog net geluk, liefde en twee kinders gegee.”

Volgens berigte is Franziska verwurg en haar liggaam in die bosse agtergelaat. Nog niemand is sover in hegtenis geneem nie.

Florian het bygevoeg Franziska se selfoon is vermoedelik ná haar moord deur haar aanvaller gebruik. Hy het gesê die laaste sein is Maandag omstreeks 21:00 deur die polisie in die woonbuurt Westlake naby Tokai waargeneem.

Dinsdagaand het sowat 3000 mense ’n waak vir Franziska by die plek van haar moord bygewoon.

Bronne: News24; EWN; Netwerk24

Ook op Huisgenoot.com:

Jeanine Victor se Shaun-Michael kry ’n sussie met die mooiste naam!

Vierjarige seun van Roodepoort gee eerste treë op herstelpad

Kyk om watter roerende rede speel die Bulls in pienk

‘Celeste, ek het nooit jou kind uit jou arms gevat nie,’ sê Zephany se grootmaakma in hof

Jy sal nie glo by watter gewilde Afrikaanse sangeres het die ooievaar kom kuier nie!