Julianna Snow was net vyf jaar oud toe sy moes kies of sy hemel of hospitaal toe wil gaan. Sy het die hemel gekies. Lees ook: Hemel of hospitaal? “Moenie bekommerd wees nie, die Here sal na my kyk” Op 14 Junie het haar ma, dr. Michelle Moon, hierdie hartroerende inskrywing op sosiale media gemaak: “Ons dierbare Julianna is vandag hemel toe.”

“Ek sou natuurlik nog tyd saam met haar wou deurbring, en dis waar die hartseer inkom, maar sy is nou vry,” het Michelle geskryf.

“Vandag wil ek die wêreld laat weet daar was ’n meisie genaamd Julianna.” Julianna was net twee jaar oud toe Charcot-Marie-Tooth-siekte by haar gediagnoseer is. Twee jaar later het sy die gebruik van haar arms en bene verloor. Sy kon ook nie meer sluk nie en buisvoeding was die enigste oplossing. Tog het haar flink verstand nie voor die verterende siekte die knie gebuig nie. “Sy was ’n merkwaardige meisietjie,” het Art Caplan van die New York University School of Medicine gesê.

“Sy het my en ander geleer selfs ’n kind kan baie te wete kom oor ’n uitdagende siekte en dat sy deurdagte, merkwaardige gevoelens oor haar siekte en haar idees kon oordra.”
Dokters het haar ma en haar pa, die lugmagvlieënier Steve Snow, vroeg reeds gewaarsku verskeie moeilike besluite wag op hulle. Selfs ’n geringe infeksie sou hul dogter se asemhaling belemmer. Sou sy veel langer oorleef, sou daar ’n kans wees dat sy onder verdowing gehou moes word – en dan sou sy nie kon praat of selfs dink nie.

Julianna het die afgelope 18 maande in ’n hospies deurgebring. Sy het net skielik siek geword, en dié keer kon die dapper vegter nie weer die terugslag oorkom nie. Vier en twintig uur later is sy oorlede.

Bronne: juliannayuri.com, cnn.com