Johannesburg – “Daar was nie ’n spesialer kind in die wêreld as sy nie.”

Dít is die woorde van Liesl Göttert, wie se 14-jarige dogter, Klara, se ligaam Dinsdagaand by die Northgate-inkopiesentrum noord van Johannesburg gevind is.

“Sy was die vriendelikste, liefdevolste kind met ’n sagte hartjie. Sy sou nie verby ’n hond loop sonder om dit ’n drukkie te gee nie. Sy was ’n sonstraal in almal se lewens,” het Liesl in ’n onderhoud met News24 gesê.

Hoewel sy aan ander media gesê het Klara het haar eie lewe geneem, het sy teen laat Woensdagoggend gesê daar het nuwe inligting uitgekom en dat sy nie vinnige gevolgtrekkings oor haar dogter se dood wou maak nie.

Die polisie kon net bevestig dat ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek geopen is.

Die meisie se liggaam is in die inkopiesentrum gevind waar sy Dinsdagaand na haar dood geval het. Sy het nog haar skooluniform aangehad. Nuus dat sy vermis is, het ure voor haar liggaam gevind is op Facebook versprei.

“Sy was ’n aktiewe kind. Sy was mal oor ysskaats, sport en parkour (’n nie-mededingende kunsvorm wat hardloop, spring en jaag behels).”

Laaste dag

Liesl het gesê sy wil nie uitwei oor haar dogter se laaste dag nie en het net gesê sy het “een of twee slegte ervaringe” by die skool daardie dag gehad. Sy was ’n leerder by die Duitse Internasionale Skool in Johannesburg.

Die skoolhoof, Thomas Bachmeier, het sy “innige simpatie” met haar dood betoon in ’n brief wat op die skool se webtuiste gedeel is, maar het gesê uit respek vir die familie gaan daar geen verdere inligting openbaar gemaak word nie.

Liesl het haar dogter se bewegings op die dag probeer naspoor en uitgevind sy het ’n bus na die George Lea-sportpark in Sandton gevat waar sy ’n parkour-klas tussen 17:00 en 19:00 bygewoon het. Sy het nie haar ma se toestemming gehad om na die klas te gaan nie.

“Daar het iets gebeur. Ek weet nie wat dit was nie. Haar beste vriend was ook daar. Ons het inligting dat sy iemand probeer bel het en toe vandaar ’n saamrygeleentheid by ’n ou man na die Northgate-inkopiesentrum gekry. Sy het vir hom een of ander storie vertel oor hoekom sy ’n saamrygeleentheid benodig.”

Liesl sê sy het met die man gepraat en hy het bevestig dat hy Klara by die inkopiesentrum afgelaai het. “Dit het aanvanklik soos selfdood gelyk, maar daar het nou nuwe inligting uitgekom. Ek wil egter nie die uitkoms van die ondersoek vooruitloop nie.”

Liesl – ’n voormalige TV-vervaardiger wat tans werk as sakekommunikasie-en-media-strateeg en wie se kliënte onder meer pres. Jacob Zuma ingesluit het – het gesê sy het ’n boodskap vir alle tieners: “As jy depressief of kwaad voel of ’n slegte dag beleef, onthou, dit sal verbygaan en daar sal weer goeie tye wees.”

News24