“Jayde was baie, baie lief vir hom(Christopher Panayiotou),” het Cherise Swanepoel, ’n kollega en vriendin van die vermoorde Jayde Panayiotou, Dinsdagoggend in die Port Elizabeth-hof getuig.

Sy het ’n tweede keer verskyn nadat die staat versoek het sy moet oor die Panayiotous se huwelik getuig.  Cherise het ook getuig Jayde was nie heeltemal gelukkig getroud nie en gefrustreerd. Cherise het vroeër aan die ondersoekbeampte lt. Kanna Swanepoel gesê Jayde was eensaam, maar dit is nooit ondersoek nie.

Cherise het gesê Christopher het geweet Jayde is ongelukkig en eensaam. Toe hy Cherise eendag vra watter soort verjaardagkoek hy Jayde kan gee, het sy geantwoord hy kan eintlik net tyd saam met haar deurbring.

Jayde was eensaam omdat Christopher altyd gewerk het, het Cherise getuig. Sy sou probeer wakker bly sodat hulle saam kon eet. Jayde sou ook nie haar slaapklere aantrek terwyl sy vir hom gewag het nie; sy wou in haar “gewone klere” wees wanneer hy ook al by die huis sou kom.

Adv. Terry Price het gesê die Panayiotou-familie het kort tevore ’n OK Grocer gekoop en dat dit harde werk sou verg om dit suksesvol te maak.

Hy het ook gesê Christopher het gereeld saans by die huis saam met sy vrou geëet. Hy sou byvoorbeeld Jayde se gunstelinggereg saamneem: ’n Chinese wegneemete. Cherise het getuig Jayde het dit baie waardeer wanneer dit wel gebeur het.

Lees ook: Jayde Panayiotou se vriendin onthou die dag wat sy verdwyn het

Die advokaat het ook gesê Christopher het Jayde na Ciprus, China, Zanzibar en Thailand geneem, en Cherise het bevestig Jayde was baie opgewonde oor die reise. Op die dag van haar verdwyning het Cherise op Facebook gesê sy was die laaste mens wat voor Jayde se verdwyning met haar gepraat het.