Carl Griffiths (22), ’n rugbyspeler op sy tuisdorp, Trimsaram, in die suide van Wallis, is letterlik te groot vir sy skoene.

Carl is net oor die 2 m lank en sy voete 39 cm. Dit maak hom die man met die grootste voete in Brittanje.

Maar nou het hy ’n groot probleem.

Carl kan nie nr. 21-grootte-rugbytokse kry om mee te speel nie. Nou moet hy sy passie vir dié sport laat vaar en op die kantlyn staan.

Die afgelope drie jaar het Carl in nr. 18-grootte-skoene vir sy dorp se plaaslike rugbyspan uitgedraf. Hy het die skoene vroeër spesiaal by ’n maatskappy in Amerika laat vervaardig. Maar sy voete het aanhou groei en kort voor lank moes Charl voor elke rugbywedstryd en -oefening sy tone met swart kleefband vasbind en met opgekrulde tone speel. Hy het al ’n paar tone so gebreek weens ander spelers wat op sy voete getrap het. Nou het Carl die nr. 18’s al kafgedraf en hy kort nuwe skoene – nr. 21-grootte-skoene waarin sy tone kan beweeg, maar wat net te duur is vir hom om te laat maak en in te voer.

'My voete was nog altyd so groot vandat ek kan onthou'

“My voete was nog altyd so groot vandat ek kan onthou,” vertel Carl.

“Hulle het op skool so vinnig gegroei, my ma moes elke paar maande vir my ’n nuwe paar skoolskoene koop. Ek het elke jaar deur so twee of drie paar skoene gegaan.”

Teen die tyd dat Carl 12 jaar oud was, het hy ’n nr. 14-skoen gedra. Binne minder as twee jaar het sy voete gegroei tot ’n nr. 17.

Maar, hoewel Carl se voetgrootte vir hom op die veld ’n probleem is, tel dit baie in sy guns wanneer hy meisies ontmoet.

“Meisies kom baiekeer na my en vra: ‘Is dit waar wat hulle sê van mans met groot voete?’”

Carl se pa, Wayne (39), dra ’n nr. 13-skoen en het nie ’n benul waar sy seun sy groot voete vandaan kry nie.

Bronne: DailyMail, Mirror.co.za