Dit danksy 'n merkwaardige operasie waarin 'n aangetaste deel van sy been afgesit is, insluitend die knie, en sy gesonde onderbeen toe op sy bobeen oorgeplant is . . . met  die voet wat na die verkeerde kant toe wys. 

Dit word "rotoplastie" oftewel rotasiechirurugie of -oorplanting genoem. En al is dit met die eerste oogopslag ietwat vreemd, het dit baie beteken vir die inspirerende jong Aussie se lewensgehalte.

Danksy sy agterstevoor voet het Jonty 'n baie groter mate van beweeglikheid as wat hy met 'n gewone amputasie sou hê. En hy het onlangs saam met sy gesin meer as vyf jaar gevier waarin hy nou al vry is van die aggressiewe beenkanker wat amper sy lewe geëis het.

Jonty, van Brisbane, was 'n regte woelwater tot hy skielik eendag mank begin loop en by sy ouers oor 'n seer been gekla het. Pa Wayne Oddy, 'n mediese wetenskaplike, en ma Robyn Farley, 'n apteker, het gesien dit was veral rondom sy knie geswel is en dadelik hulp gekry.

X-strale in 'n kinderhospitaal het toe onthul hul knapie het 'n seldsame soort beenkanker gehad - osteosarkoma. 'n Kwaadaardige gewas het van sy knie af amper halfpad in sy bobeen op gestrek. "Ons was geskok en verpletter,'' het Wayne onlangs vertel.

Dokters het Jonty dadelik met intensiewe chemoterapie begin behandel. "Dit was baie swaar vir hom . . . hy het al sy hare en naels verloor.''

Maar ná drie uitmergelende maande van chemo het die gewas met 'n wonderbaarlike sowat 90 persent gekrimp, genoeg om met chirurgie heeltemal van die kanker ontslae te probeer raak.

Jonty en sy gesin: pa Wayne, ma Robyn en sy sussie, ook Robyn. Foto: Facebook

Wayne en Robyn is voor die keuse gestel: 'n gewone amputasie . . . of rotoplastie, met sy bepaalde voordele.

By rotoplastie word 'n deel van 'n ledemaat verwyder en die oorblywende deel daaronder weer geheg, maar geroteer. In dié geval sou Jonty se agterstevoor voet (sy enkel) as gewrig of skarnier dien in die plek van die knie wat hy sou verloor.

"Ons het daarop besluit omdat dit hom groter funksie, beweeglikheid, sou bied. Hy sou soveel meer kon doen,'' het Wayne verduidelik. Rotoplastie verminder ook die risiko vir "spookpyn" (phantom pain) - waar dit vir mense voel hulle het pyn waar 'n geamputeerde ledemaat eens was.

Jonty het steeds omtrent sy volle lengte beenare en -vate; hulle lê nou opgevou agter sy enkel. Nadat die snywerk genees het, is hy ook met 'n kunsbeen toegerus. 'n Groot voordeel van die rotoplastie is dus juis dat sy enkel dan as gewrig dien met sy voet wat in die prostese pas en hy laasgenoemde beter kan benut.

Toe die gesin hom die eerste keer ná die amputasie en oorplanting sien, het hulle gedink "dit lyk ietwat bisar, maar nou merk ons dit glad nie eens op nie'', het Wayne vertel. 

Sy medeleerlinge is ook skaars bewus van die kunsbeen wat hy skool toe dra (tuis sal hy graag sy voet "vrylaat").

En kyk 'n mens na die gesin se sosialemediafoto's, sien dié kêrel vir baie dinge kans, al lyk en werk sy been vandag ietwat anders as ander jong avontuurlustiges s'n.

Bronne: au.news.yahoo.com, Facebook, mirror.co.uk, Twitter, YouTube