Die gesin het oor die jare elke aand hul stoeplig in die klein dorpie St. Joseph in die deelstaat Minnesota aangelos met die hoop dat hul seun sy pad huistoe sal vind. Dié brandende stoeplig het ’n simbool van die soektog na Jacob geraak en oor die jare het hope ander inwoners van die dorp saans hul stoeplig begin aanlos in solidariteit met die gebroke ouers wie se seun ontvoer is. Nou is die laaste greintjie hoop wat die Wetterling-gesin en die res van St. Joseph se inwoners gehad het finaal daarmee heen. Jacob se oorblyfsels is die afgelope week in ’n weiveld buite die dorpie Paynesville gevind. Paynesville is sowat 40 kilometer weg van St. Joseph.
"Ons is in rou gedompel. Ons wou nie hê sy storie moet so eindig nie," het sy gesin in ’n verklaring op die Jacob Wetterling Resource Center se webblad geskryf. Die organisasie is gestig om ander kinders teen ontvoerders te beskerm. "Ons harte is gebreek," het Patty in ’n SMS aan ’n koerant in hul area gesê. "Ons het nie woorde nie." Staatspatoloë en ’n forensiese tandheelkundige het glo die oorblyfsels ondersoek en bevestig dit is Jacob s’n. Die polisie het aan plaaslike owerhede bevestig ’n jarelange verdagte in die saak het hulle op 1 September na die seuntjie se oorblyfsels gelei. Jacob is in 1989 ontvoer toe hy, sy jonger broer en ’n maat van hulle rondom nege-uur die aand met hul fietse gery het om ’n fliek te gaan uitneem. ’n Gemaskerde, gewapende man het die drie seuns oorval en aangesê om op hul mae te lê. Hy het Jacob se ouer broer gesê om die woud in te hardloop en die ander twee seuns gevra om hul gesigte na hom te draai. Die ander seun het ook weggehardloop om hulp te ontbied. Jacob is nooit weer gesien nie.

Die polisie het verlede jaar Daniel Heinrich, ’n 52-jarige man wat voorheen skuldig gepleit het op 25 aanklagte vir die besit van kinderpornografie, as ’n moontlike verdagte uitgewys. Hy het enige betrokkenheid ontken, maar daar word bespiegel dat hy die persoon is wat polisie na Jacob se oorblyfsels gelei het.

Nadat Jacob in 1989 ontvoer is, het die Amerikaanse regering ’n wet uitgevaardig wat deelstate verplig om ’n register met seksmidadigers te hou.

"Ons harte is swaar, maar ons word staande gehou deur al die mense wat deel is van die hoop dat Jacob se liggie nooit sal ophou skyn nie. Dit skyn net voortaan op ’n ander manier."

Bronne: BuzzFeed, The Star Tribune, www.gundersenhealth.org, CNN