“Sy kan nie meer nie. Sy kan nie meer nie. Sy kan nie meer nie.”

[caption id="attachment_163953" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

So vertel Tasha Erasmus van haar ma, Reinette Henning, wat nou, benewens ’n verminkte borskas ná ’n mislukte borsrekonstruksie, dalk ook kanker op haar regterlong het.

“Dit is met ’n baie seer hart dat ek vanaand hier skryf. PET scan se uitslae gekom. Dokters seker daarvan daar is kanker op my mamma se regterlong. My hart is stukkend. Ek weier om te aanvaar,” het Tasha op die Facebookblad Mrs. C. E. Henning needs help geskryf.

Tasha sê aan Huisgenoot sy weet nie meer hoe om haar ma te help nie, maar sy weet sy gaan nie ophou om vir haar ma te baklei nie.

“Ek verloor my ma elke dag bietjie vir bietjie,” sê Tasha.

Borskanker is in Julie 2014 gediagnoseer by Reinette, wat in eMalahleni (Witbank) woon. In dieselfde maand is dit ook by haar ma, Maryna van der Heyde (67), gediagnoseer. En net ’n bietjie meer as ’n week voor Reinette se diagnose is haar pa, Batie van der Heyde (70), begrawe ná ’n lang stryd teen longkanker.

Weens die borskanker moes Reinette ’n dubbele mastektomie ondergaan. Vir lank het Reinette, wat nie ’n mediese fonds het nie, geld gespaar vir ’n borsrekonstruksie.

Dié is in November verlede jaar gedoen, maar dit was onsuksesvol. Sedert 22 November word Reinette in die een hospitaal na die ander behandel.

Daar waar sy nou in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg lê, verkeer sy permanent in pyn, vertel Tasha.

“Haar vingerpunte is spierwit. Daar is geen gevoel meer in nie. Sy het twee vrot ribbes. Die een ribbebeen het weens die vrotheid middeldeur gebreek. Dié steek uit deur die wond,” sê Tasha.

“Die ontsteking klaar nie op nie. Die verrotting word net dieper.”

Maandag het die dokters met die volgende slegte nuus gekom toe hulle vir Reinette sê sy het kanker in haar regterlong. ’n Biopsie moet nou gedoen word om die diagnose te bevestig.

“Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek moet my ma se storie by die regte mense kry sodat iemand ’n ophef daar kan gaan maak dat hulle my ma net kan help,” sê Tasha.

“My ma huil elke dag. Maar sy is te bang om te kla, want sy is bang dan word sy nie gehelp nie.

“My ma is onskuldig. Sy het niks verkeerds gedoen nie. Nou word sy gepynig. En dit hou net nie op nie.

“My hart breek, want my ma verdien nie wat nou met haar gebeur nie.”